On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Laurika
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vrystater se verhoor in saak oor beweerde seksuele misdrywe teen seuns uitgestel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:32 Fri, 16 Oct 2026

Vrystater se verhoor in saak oor beweerde seksuele misdrywe teen seuns uitgestel | News Article
Jaco Roets het twee afsonderlike hangende sake teen hom. Foto verskaf

Die tweede verhoor van ’n Vrystater wat van ’n reeks seksuele misdrywe teenoor seuns beskuldig word, is tot Desember uitgestel nadat hy van regsverteenwoordiger verander het.

Jaco Roets (45), wat in twee afsonderlike sake teregstaan op aanklagte van seksuele misdrywe oor verskeie jare, het Woensdag (14/10) in die Virginia-streekhof verskyn. Die saak is tot 7 Desember uitgestel nadat hy ’n nuwe prokureur aangestel het.

Die eerste saak is tot 16 November vir verdere verhoor uitgestel. Die twee sake sluit aanklagte in van seksuele aanranding, verkragting, seksuele voorbereiding van kinders, statutêre verkragting, die blootstelling van ’n kind aan pornografie en die beweerde besit van kinderpornografie.

Volgens die nuwe klagstaat hou die besit van pornografie-klag verband met materiaal wat na bewering in Junie 2018 in Roets se besit was. Die staat beweer verskeie onwettige foto’s en video’s is op ’n Lenovo-skootrekenaar gevind. Die staat beweer verder Roets het hom op kwesbare seuns en jong mans toegespits en hulle na bewering met sy voertuig genader of opgelaai en daarna ’n vriendskap met hulle aangeknoop.

Jaco Roets. Foto verskaf

Dié beweerde werkswyse was glo daarop gemik om hom toegang tot kwesbare jong mense te gee. Roets word ook daarvan beskuldig dat hy in Augustus 2017, toe hy om werk by ’n veiligheidsmaatskappy aansoek gedoen het, versuim het om sy vorige skuldigbevinding aan ’n seksuele oortreding teen ’n kind of verstandelik gestremde persoon bekend te maak.

Hy is in 2012 aan ’n seksuele oortreding skuldig bevind en sy naam is daarna in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem. Die bewerings in die ander hangende saak strek volgens die klagstaat terug tot 2000. Die staat beweer ook dat Roets in Julie 2018 probeer het om die regsproses te verydel deur ’n vrou na bewering te probeer oorreed om ’n valse verklaring aan die polisie af te lê oor ’n beweerde voorval op 9 Junie 2018.

Hy is in 2018 weer in hegtenis geneem in verband met seksuele misdrywe, maar is op borgtog vrygelaat. Hy is in 2025 vir ’n derde keer in hegtenis geneem en het op 8 Desember in die Virginia-landdroshof verskyn op nuwe aanklagte, waaronder seksuele aanranding, die blootstelling van ’n kind aan pornografie, seksuele voorbereiding en uitlokking.

Sy borgtogaansoek is geweier. Landdros Annaria Campher het tydens die borgtogaansoek aangevoer dat Roets na bewering sy slagoffers vir seksuele doeleindes teiken.

Die staat het aangevoer hy hou ’n gevaar vir seuns in die gemeenskap in en gebruik na bewering ’n soortgelyke werkswyse om slagoffers te teiken. Meer as 300 inwoners het binne twee dae ’n petisie onderteken wat tydens sy hofverskyning aan die hof oorhandig is.

OFM Nuus sm

Het jy ’ nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.