On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Tiere, tierboskat uit haglike Noordwes-fasiliteit verwyder

───   14:09 Fri, 16 Oct 2026

Tiere, tierboskat uit haglike Noordwes-fasiliteit verwyder | News Article
Drie Bengaalse tiere is by ’n teelfasiliteit in Noordwes verwyder. Foto: NSPCA

Drie Bengaalse tiere en ’n tierboskat is uit ’n teelfasiliteit vir roofdiere in Groot Marico verwyder nadat ernstige welsynsprobleme aan die lig gekom het.

Die NDBV se wildbeskermingseenheid het die instelling Woensdag (14/10) geïnspekteer en die diere die volgende dag ingevolge ’n lasbrief verwyder. ’n Wildveearts en die polisie op Groot Marico het hulle gehelp. Die diere is na ’n geskikte veilige plek geneem vir verdere veeartsenykundige ondersoeke en versorging.

Twee van die tiere is in ’n kamp aangehou waarin groot hoeveelhede vars en ou ontlasting, bene, vere en ontbindende hoenderkarkasse gelê het. “Die kamp het geen afsonderlike bestuursgebied vir skoonmaak gehad nie, terwyl voldoende skuiling, verryking en drinkwater ook ontbreek het,” sê Samanta Stelli, NDBV-woordvoerder.

’n Derde tier het erg mank geloop en daar was volgens die dierebeskermingsvereniging geen bewys dat hy veeartsenykundige behandeling ontvang het nie. Die tierboskat het ’n groot, onbehandelde wond aan sy regteragterbeen. Albei diere kort verdere sorg nadat hulle uit die fasiliteit verwyder is.

Die tierboskat is ook verwyder en kry behandeling. Foto: NDBV

Die NDBV sê probleme strek verder as die vier diere. Verskeie kampe is te klein vir die getal wat daarin aangehou word, daar is geen werkende verkoelingsgeriewe vir vleis nie en dooie beeste en hoenders word as voer gebruik. Sommige leeus en ’n luiperd is vetsugtig, terwyl roofdiere deur aangrensende heinings baklei.

Die fasiliteit huisves inheemse en eksotiese diere. Die NDBV sê leeus en tiere in naburige kampe kan deur die heinings by mekaar uitkom en baklei, wat spanning en risiko’s verhoog. Die organisasie beskou die toestande as ’n voorbeeld van die welsynsprobleme wat volgens hom inherent aan die kommersiële aanhouding van roofdiere is.

Permitvoorwaardes oortree

Inspekteurs het met ’n vorige besoek ook ontbindende oorblyfsels van leeus en krokodille op die terrein gevind. In Junie het die eienaar tydens ’n inspeksie met ’n provinsiale omgewingsbeampte bevestig die elektriese heinings om die roofdierkampe werk sedert 2021 nie. Die beampte het aangeteken dat dit permitvoorwaardes oortree.

Die NDBV verwag nou dat Noordwes se departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing, bewaring en toerisme die diere se welsyn in ag sal neem wanneer besluit word of die fasiliteit sy permit mag behou. 

Stelli sê ’n hofuitspraak van 2019 bepaal dat die owerheid dierewelsyn moet oorweeg wanneer sulke besluite geneem word.

’n Strafsaak is aanhangig gemaak oor beweerde oortredings van die Dierebeskermingswet en die NDBV stel getuienis vir die dossier saam. Dit sal die tweede dossier oor die fasiliteit wees. Die eerste is volgens die organisasie sedert 2021 nog by die NVG hangende.

Die NDBV waarsku ook dat tiere en ander eksotiese spesies toenemend die plek van leeus in die aanhouding- en teelbedryf inneem namate plaaslike en internasionale druk op die leeubedryf toeneem. 

Die organisasie wil hê nasionale omgewingsowerhede moet verseker beskermingsmaatreëls sluit ook hierdie diere in. 

OFM Nuus dg/cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.