On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Woordeboeke bly skatkiste van kennis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:52 Fri, 16 Oct 2026

Woordeboeke bly skatkiste van kennis | News Article
Woordeboeke bly skatkiste van kennis. Foto: iStock

“Gaan kyk in die woordeboek.” Dié bekende aanmaning het baie van ons as kinders gehoor wanneer ons nie ’n woord verstaan het of geweet hoe om dit te spel nie.

Internasionale Woordeboekdag word jaarliks op 16 Oktober gevier en hou verband met die verjaardag van Noah Webster, wat op dié dag in 1758 gebore is. Hy word as ’n baanbreker van die Amerikaanse woordeboek beskou. 

Die dag bied wêreldwyd ’n geleentheid om die belangrikheid van woordeboeke te beklemtoon en mense aan te moedig om hul taalgebruik en woordeskat uit te brei. In Suid-Afrika speel woordeboeke ook ’n belangrike rol in die ontwikkeling, standaardisering en behoud van Afrikaans en ander inheemse tale.

Maureen van Helden, woordeboekliefhebber en ViVA-taaladviseur van die Vaaldriehoek. Foto verskaf

Van Helden se liefde vir woorde het reeds in haar kinderjare begin, toe haar pa haar aangemoedig het om self antwoorde in boeke te soek.

“As ek byvoorbeeld vir my pa gevra het hoe ’n mens ’n woord spel of wat dit beteken, was sy eerste antwoord gewoonlik: ‘Soek dit op.’”


Die gewoonte het by Van Helden gebly en haar belangstelling in die betekenis en oorsprong van woorde verder aangevuur. 

“Vir my is woordeboeke skatkiste vol kennis en verrassings. Hoe meer ’n mens met woorde werk, hoe meer besef jy hoeveel daar nog is om te ontdek.” 

Dit is juis die stories agter woorde en die voortdurende geleentheid om iets nuuts te leer wat haar steeds fassineer. “Dit fassineer my seker die heel meeste – ’n mens raak nooit klaar met leer nie.”  

Woordeboeke is belangrik vir die bewaring van ’n taal. Foto verskaf

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, sê die werk agter woordeboeke verg baie tyd en moeite, maar is noodsaaklik om ’n gestandaardiseerde taal te handhaaf en gehalte geskrewe werke moontlik te maak.

“Ons is baie dankbaar vir al die woordeboekmakers. Dit is ’n lang en uitputtende werk en sonder hulle sal dit bitter moeilik wees om ’n gestandaardiseerde taal te kan handhaaf.” 


Hoewel woordeboeke vroeër hoofsaaklik in gedrukte vorm beskikbaar was, het tegnologie dit makliker gemaak om taalhulpmiddels te gebruik. 

Speltoetsers, vertaalprogramme en ander digitale hulpmiddels bied vandag vinnige toegang tot inligting en help mense om hul taalvaardighede te verbeter.

Bailey sê dié ontwikkeling maak taalhulpbronne vir meer mense toeganklik, ongeag waar hulle is. 

“Internasionale Woordeboekdag herinner taalgebruikers daaraan dat woordeboeke veel meer as naslaanwerke is: Dit is hulpmiddels wat kennis oordra, taal help bewaar en mense aanmoedig om aan te hou leer.”

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.