Central SA
Douglas neem afskeid van jong man wat skielik sterf─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:06 Tue, 20 Oct 2026
’n Jong man van Douglas wat onverwags aan breinvliesontsteking gesterf het, sal Saterdag (24/10) ter ruste gelê word.
Adrian Janse van Rensburg (19), wat verlede jaar aan Hoërskool Douglas gematrikuleer het, se troosdiens vind om 10:00 in die NG kerk op Douglas plaas. Hy is Woensdag (14/10) in die Hester Malan-hospitaal oorlede, sowat ’n uur en ’n half nadat hy daar aangekom het.
Adrian het ongeveer twee weke voor sy dood kwaai hoof- en nekpyn begin ervaar. Hy het ook sy eetlus verloor en sowat drie dae lank ’n voedingsaanvuller gebruik. Enkele ure voor hy oorlede is, kon hy niks meer inneem nie en is hy per ambulans na die hospitaal geneem, vertel Sarita, sy ma.
Sy skielike dood het ’n leemte gelaat in die lewe van die mense wat hom geken het, veral sy familie, skoolvriende en die gemeente waar hy gereeld gehelp het.

Adrian en sy ma, Sarita. Foto verskaf
Obie Vermeulen, ’n oudonderwyser van hom, onthou hom as ’n pligsgetroue en hardwerkende leerling wat ’n verskil gemaak het. “Adrian was ’n stil leier, maar het ’n groot impak gemaak. Hy was ’n besonder oulike kind.”
Sy ma beskryf hom as ’n introvert wat nie daarvan gehou het om tussen groot groepe mense te wees nie, maar wat hegte bande met sy vriende gesmee het. Adrian was ook ’n bekende gesig in die plaaslike NG kerk, waar hy sy ma, die gemeentebestuurder, gereeld bygestaan het. Hy het as afloskoster opgetree en tydens kerkbasaars hand bygesit.

Adrian en sy broer, John-Philip, het ’n hegte band gehad. Foto verskaf
“Sy hulpvaardigheid het ’n blywende indruk op die gemeenskap gemaak, waar mense steeds sy afwesigheid raaksien,” sê Sarita. “Hy was ook besonder presies en georganiseerd en het daarvan gehou om vooruit te beplan, was altyd netjies en betyds en wou graag weet wat die dag se planne behels.”
Adrian het vanjaar ’n oorbruggingsjaar geneem en het onlangs by ’n maatskappy begin werk waar hy kringtelevisiebeeldmateriaal gemonitor het.

Adrian en sy pa, John. Foto verskaf
Hoewel hy en sy broer, John-Philip, mekaar dikwels geterg het, was hulle baie lief vir mekaar. “Hy het elke oggend vir hom ’n boodskap gestuur om hom ’n goeie dag toe te wens – een van die klein, alledaagse gebare wat sy familie nou des te meer sal koester.” Hy laat sy ouers, Sarita en John, asook sy broer, John-Philip, agter.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
