Central SA
Uitspraak voorbehou in AfriForum se Mangaung-vullissaak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:28 Thu, 29 Oct 2026
Terwyl daar op ’n beslissing gewag word wat duidelikheid oor inwoners se regte kan bring is uitspraak voorbehou in ’n hofsaak oor Mangaung-metro se voortslepende probleme met vullisverwydering,
AfriForum sê hy sal die uitspraak bestudeer sodra dit gelewer word en die implikasies daarvan met inwoners kommunikeer. Die saak het Maandag (26/10) in die Bloemfonteinse hooggeregshof gedien ná jare se klagtes oor gebrekkige en onbetroubare vullisverwydering, ondanks inwoners se betaling van munisipale tariewe vir dié diens.
Dit is onseker wanneer die beslissing verwag kan word. Dit kan binne ’n week volg, maar die proses kan ook maande duur. Inwoners behoort nie verplig te word om vir ’n diens te betaal wat nie behoorlik gelewer word nie, sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van die sentraalstreek
“Inwoners moet, waar die Mangaung-metro nie die diens kan lewer nie, van alternatiewe diensverskaffers gebruik kan maak.” sê Grobbelaar.
‘Dit is onaanvaarbaar dat inwoners jaar ná jaar vir ’n diens moet betaal wat nie konsekwent gelewer word nie’
Die organisasie probeer sedert 2020 om die probleem met die metro op te los. Honderde aansoeke om kwytskelding van die vullisverwyderingstarief is met AfriForum se hulp ingedien, maar die munisipaliteit het volgens die organisasie versuim om dié aansoeke behoorlik af te handel.
AfriForum het ook by verskeie geleenthede self vullis namens inwoners verwyder om die gesondheid- en omgewingsgevare te beperk van afval wat ophoop.
“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners jaar ná jaar vir ’n diens moet betaal wat nie konsekwent gelewer word nie. Sedert hierdie hofgeding begin het, het vullisverwydering ’n groot probleem in Bloemfontein gebly en kon die Mangaung-metro nie daarin slaag om ’n betroubare en volhoubare diens te lewer nie,” sê Grobbelaar.
AfriForum het die hof onder meer versoek om te verklaar dat inwoners nie geldelik aanspreeklik behoort te wees vir vullisverwyderingsdienste wat nie deur die munisipaliteit gelewer word nie.
Die organisasie wil ook hê inwoners moet alternatiewe diensverskaffers kan gebruik en dat die munisipaliteit gelas word om oor uitstaande aansoeke om vrystelling van die tarief te beslis.
Breër kommer heers intussen oor afvalbestuur in die Vrystaat. In AfriForum se jongste oudit van vullisterreine is bevind slegs een van die 17 Vrystaatse stortingspersele en oorlaaistasies wat geoudit is, het aan die minimumvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen.
Die Vrystaat het ’n gemiddelde nakomingspunt van 19% behaal. Twaalf terreine het minder as 20% behaal, terwyl nege se punte sedert verlede jaar verswak het. Die Bethlehem-vullisterrein in Dihlabeng-munisipaliteit was die enigste in die provinsie wat aan die ouditvereistes voldoen het, en het ’n punt van 88% behaal tenoor slegs 18% in 2022.

Grobbelaar sê dié verbetering wys dat swak afvalbestuur reggestel kan word, maar dat dringende optrede nodig is om die gevolge daarvan vir mense en die omgewing te beperk.
“AfriForum glo dat die hof se uitspraak duidelikheid sal bring oor die regte van inwoners wat vir dienste betaal wat nie gelewer word nie. Dis eenvoudig: Bloemfontein se inwoners moet ’n behoorlike, volhoubare vullisverwyderingsdiens ontvang as daar van hulle verwag word om vir die diens te betaal.”
OFM Nuus cvs
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

