On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Benita
Listen Live Streams

Central SA

Sentraal-Suid-Afrika se vullisterreine kry swak oudit

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:33 Sat, 17 Oct 2026

Sentraal-Suid-Afrika se vullisterreine kry swak oudit  | News Article
AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit. Foto ter illustrasie: iStock

Nie een van Sentraal-Suid-Afrika se drie provinsies het goed gevaar in AfriForum se jongste oudit vir vullisterreine nie.

Die Noord-Kaap het landwyd die swakste presteer, terwyl ernstige tekortkominge in afvalbestuur ook in die Vrystaat en Noordwes aangemeld is. Noordwes het ’n gemiddelde nakomingspunt van 40% behaal, die Vrystaat 19% en die Noord-Kaap 14%. Slegs 6% van die 17 vullisterreine en oorlaaistasies wat in die Vrystaat geoudit is, voldoen aan die minimumvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur. 

Die Bethlehem-vullisterrein in die Dihlabeng-munisipaliteit was die enigste terrein in die Vrystaat wat aan die oudit vereistes voldoen het. Die terrein se nakomingspunt het van 18% in 2022 tot 88% vanjaar verbeter.

Van die Vrystaatse vullisterreine het minder as 20% behaal. Foto: iStock

Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, sê dié verbetering bewys swakafvalbestuur kan reggestel word. “Die Vrystaat het vanjaar weer swak gevaar en naas die Noord-Kaap die tweede swakste gemiddelde nakomingspunt aangeteken. 

“Dringende optrede is nodig om die gevolge van swak afvalbestuur vir mense en die omgewing te beperk. Doeltreffende afvalbestuur is ononderhandelbaar en munisipaliteite kan nie langer verskonings maak nie.”  

Nakomingspunte

Twaalf Vrystaatse vullisterreine het minder as 20% behaal. Nege se nakomingspunte het sedert 2025 verswak. Winburg en Zastron is nie verlede jaar geoudit nie, terwyl Kroonstad se punt onveranderd gebly het.

In Noordwes het slegs vyf van die19 geouditeerde vullisterreine en oorlaaistasies (26%) aan die minimum vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. “Die provinsie was die derde swakste landwyd,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-gebied.

Die Noord-Kaap het die slegste gevaar. Foto: iStcok

Die vyf terreine wat die oudit geslaag het, is Hartebeesfontein, Mooinooi, Felophepa in Potchefstroom, Waterval in Rustenburg en Vryburg. Felophepa het vanjaar aansienlik verbeter en ’n nakomingspunt van 92% behaal nadat ’n bevoegde kontrakteur aangestel is. Die terrein het in 2024 en 2025 onderskeidelik 52% en 50% behaal. Vryburg het ook vanjaar vir die eerste keer die oudit geslaag, met ’n punt van 74%.

Pretorius sê Felophepa se verbetering bewys swak afvalbestuur kan reggestel word. “AfriForum sal die terrein se vordering monitor om te bepaal of die verbetering volhoubaar is.”

Ses Noordwes-terreine het minder as 20% behaal. Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Marico-distrik, sê Tswaing en Kgetlengrivier se swak prestasie duur voort. Tswaing se twee geouditeerde terreine het gemiddeld 19% behaal, terwyl Kgetlengrivier se terreine in Koster en Swartruggens gemiddeld slegs 3% aangeteken het.

AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit. Foto: iStock 

“Die resultate weerspieël dié breër probleme met dienslewering en munisipale bestuur. Good Governance Africa se 2024-indeks het Tswaing en Kgetlengrivier onderskeidelik 182ste en 184ste uit 205 munisipaliteite geplaas.”

Die Noord-Kaap het die swakste van al nege provinsies gevaar. Nie een van die ses terreine wat vanjaar daar geoudit is, het aan die minimum vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen nie. Die provinsie se gemiddelde nakomingspunt is slegs 14%. Oor die afgelope vyf jaar het net drie terreine in die Noord-Kaap die oudit geslaag, ondanks 87 oudits by 26 verskillende terreine.

Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, sê dié resultate dui op ernstige, sistemiese verval in plaaslike regering en dienslewering. Hy waarsku swak afvalbestuur bedreig die provinsie se skaars natuurlike hulpbronne en benadeel ekonomiese bedrywighede soos landbou, veeboerdery en ekotoerisme. 

AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit. Slegs 30 terreine (23%) het minstens 80% van die ouditvereistes nagekom, wat daarop duidat sowat agt uit elke tien terreine ernstige tekortkominge in infrastruktuur, bedryfsbestuur of basiese nakoming toon. Die Wes-Kaap en Gauteng het die beste gevaar, met gemiddelde nakomingspunte van onderskeidelik 66% en 64%.

AfriForum het sy verslag vroeër vandeesmaand aan die departement van bosbou, visserye en die omgewing in Pretoria oorhandig. Die organisasie sê hulle sal voortgaan om munisipale vullisterreine jaarliks te monitor en met owerhede, bedryfsrolspelers en gemeenskappe oor praktiese oplossings te skakel. Dit moedig gemeenskappe ook aan omverantwoordelike afvalbestuur, herwinning en plaaslike inisiatiewe te ondersteun om die hoeveelheid afval te verminder.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.