Central SA
AfriForum spring in om vullis op Christiana te verwyder─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:30 Fri, 30 Oct 2026
Inwoners van ’n Noordwes-dorp sit al byna twee weke met opgehoopte vullis nadat munisipale vullisverwydering tot stilstand gekom het.
Die Lekwa-Teemane-munisipaliteit op Christiana kon nie daarin slaag om ’n ander plan te maak nadat sy vullisverwyderingsvragmotor vir herstelwerk weggestuur is nie. AfriForum se tak het gevolglik self ingespring en reeds sowat vyf vragte vullis van inwoners se erwe verwyder, sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland
“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners se vullis onbepaald moet ophoop terwyl hulle vir dié munisipale diens betaal.” Hy meen die munisipaliteit het steeds ’n verantwoordelikheid om gereelde en betroubare dienslewering te verseker, ongeag die uitdagings waarmee hy te kampe het.
AfriForum het ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig waarin hy ’n duidelike plan vir alternatiewe vullisverwydering eis. Die burgerregteorganisasie wil ook weet wanneer normale dienslewering hervat sal word en watter stappe gedoen gaan word om soortgelyke onderbrekings in die toekoms te voorkom.
AfriForum versoek ook dat die munisipaliteit die moontlikheid van ’n memorandum van verstandhouding ondersoek wat samewerking tussen die twee partye kan bevorder om diensleweringsprobleme aan te pak.
Nel sê inwoners kan nie voortdurend die gevolge van gebrekkige dienslewering dra nie, aangesien vullisverwydering ’n noodsaaklike diens is wat ook met openbare gesondheid en lewensgehalte verband hou.
“Ons is bereid om saam met die munisipaliteit na praktiese oplossings te soek, maar beklemtoon dat dit met verantwoordbaarheid en ’n verbintenis tot volhoubare dienslewering gepaard moet gaan.”

AfriForum eis ’n duidelike plan vir alternatiewe vullisverwydering. Foto verskaf
AfriForum in Bloemfontein wag ook op ’n hofuitspraak wat duidelikheid kan bring oor inwoners se regte te midde van die Mangaung-metro se voortslepende probleme met vullisverwydering. Uitspraak is voorbehou in ’n hofsaak oor die metro se versuim om vullisverwydering behoorlik te hanteer.
Die burregteorganisasie sê hy sal die uitspraak bestudeer sodra dit gelewer word en die implikasies daarvan met inwoners kommunikeer. Die saak het Maandag (26/10) in die Bloemfonteinse hooggeregshof gedien ná jare se klagtes oor gebrekkige en onbetroubare vullisverwydering, ondanks inwoners se betaling van munisipale tariewe vir dié diens.
“Dit is onseker wanneer die beslissing verwag kan word. Dit kan binne ’n week volg, maar die proses kan ook maande duur. Inwoners behoort nie verplig te word om vir ’n diens te betaal wat nie behoorlik gelewer word nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van die sentraalstreek
“Inwoners moet, waar die Mangaung-metro nie die diens kan lewer nie, van alternatiewe diensverskaffers gebruik kan maak.”
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.


