Central SA
Twee vas ná wrede plaasaanval op Donovan Marx─── 08:02 Sun, 01 Nov 2026
Twee verdagtes is in hegtenis geneem ná die gewelddadige plaasaanval buite Ventersdorp waarin ’n Noordwes-beesboer geskiet en sy ore afgesny is.
Volgens die polisie is die inhegtenisnemings die gevolg van ’n intensiewe ondersoek na die aanval Woensdag (28/10) op Syferfontein. Intussen sê Donovan Marx (50) se familie hy is steeds in ’n stabiele toestand in die intensiewesorgeenheid van Mediclinic Potchefstroom, maar sy beserings bly ernstig.
Lt.genl. Arthur Peter Adams, Noordwes se provinsiale polisiekommissaris, verwelkom die inhegtenisnemings en loof die ondersoekspan vir hul vinnige, gesamentlike pogings om die skuldiges voor die gereg te bring. Nadere besonderhede oor die verdagtes en hul verwagte hofverskyning is nog nie bekendgemaak nie.

Lt.genl. Arthur Peter Adams, provinsiale polisiekommissaris, spreek die media toe ná die inhegtenisnemings. Foto: SAPD
Marx se vrou, Louise, en sy familie sê in ’n verklaring Saterdag (31/10) hulle is dankbaar vir sy vordering en die toegewyde mediese sorg wat hy ontvang. Sy herstel sal egter tyd en verdere mediese aandag verg.
Volgens die familie is Marx geskiet, geskop, geslaan en met ’n mes gesteek. ’n Koeël het deur sy nier beweeg en ’n besering aan sy dikderm het genoodsaak dat ’n gedeelte daarvan chirurgies verwyder word. Hy het ook ’n messteekwond aan sy been.
Albei sy ore is tydens die aanval afgesny en kon nie chirurgies gered word nie. Die familie is meegedeel dat prostetiese oorrekonstruksie in die toekoms moontlik oorweeg kan word, onderhewig aan verdere mediese evaluering en sy herstel.
Gerugte op sosiale media dat sy geslagsdele verwyder is, is volgens die familie geheel en al onwaar. Hulle doen ’n ernstige beroep op persone en organisasies om die verspreiding van dié bewerings onmiddellik te staak en sy menswaardigheid en privaatheid te respekteer.
“Daar bestaan geen regverdiging om verdere onwaarhede by te voeg, feite te verdraai of sensasie uit sy lyding te probeer skep nie,” lui die familieverklaring. Hulle sê die polisieondersoek is in ’n sensitiewe fase en vra dat dit sonder onnodige inmenging voortgaan.
‘Familie is diep geraak deur almal se gebede’
OFM Nuus het vroeër berig drie aanvallers het omstreeks 08:00 die elektriese heining geknip en ’n plaaswerker oorrompel en vasgebind. Marx was by sy beeste en het omstreeks 08:30 teruggekeer. Die aanvallers het met drie wapens uit sy kluis en sy rooi Isuzu-enkelkajuitbakkie gevlug.
Te midde van die ondersoek bly die familie diep geraak deur gebede, bemoedigende boodskappe en hulpaanbiedinge van mense landwyd. Hulle bedank opnuut mediese en nooddienswerkers, veiligheidsrolspelers, gemeenskappe en elkeen wat ondersteuning bied, en vra dat mense vir Marx, sy mediese span en sy naasbestaandes bid.
Besoeke bly op aanbeveling van sy mediese span beperk tot nabye familielede wat vooraf deur Louise goedgekeur is. Fondsinsamelings en openbare inisiatiewe in die egpaar se naam moet vooraf deur hul gemagtigde verteenwoordigers goedgekeur word. Die familie vra ook dat niemand hul omstandighede vir persoonlike of finansiële gewin uitbuit nie.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


