Central SA
Noord-Kaapse polisie waarsku ná twee tieners verdrink─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:31 Tue, 03 Nov 2026
Die Noord-Kaapse polisie waarsku inwoners om waterveiligheid ernstig op te neem nadat twee tieners onlangs in afsonderlike voorvalle verdrink het.
Die polisie is bekommerd oor verskeie verdrinkingsvoorvalle wat die afgelope tyd aangemeld is. “Met die somer wat nader kom en meer mense wat na swembaddens, riviere en damme gaan, word gemeenskappe gevra om uiters versigtig te wees,” sê kapt. Nomthandazo Mnisi, provinsiale polisiewoordvoerder.
Eugene Tieties (15), ’n leerder aan die Sekondêre Skool A.J. Ferreira, is Saterdag (31/10) dood nadat hy in die munisipale swembad op Upington verdrink het. Minder as twee weke tevore het Thembi Nkosi (15) op 17 Oktober in die Karen Muir-swembad in Kimberley verdrink.
Die polisie maan ouers en voogde om kinders altyd onder toesig te hou wanneer hulle naby water is. Jong kinders moet binne reikafstand van ’n verantwoordelike volwassene bly en mag nooit alleen swem nie. Kinders moet ook van kleins af oor waterveiligheid ingelig word en aangemoedig word om onderrig by ’n gekwalifiseerde swemafrigter te ontvang.
“Inwoners word aangeraai om, waar moontlik, slegs in aangewese en veilige swemareas te swem. Niemand moet onder die invloed van drank of dwelms swem of ’n boot bestuur nie, aangesien dit oordeel en koördinasie kan benadeel,” sê Mnisi.
Die polisie waarsku ook teen duik in onbekende of vlak water sonder dat die diepte eers vasgestel is. Riviere en damme kan sterk strome, versteekte diep gate en gladde walle hê wat ernstige gevare inhou.

Almal moet behoorlik passende reddingsbaadjies dra wanneer hulle in 'n boot vaar of van daar af hengel.. Bote moet ook nooit oorlaai word nie. Mnisi sê mense moet die basiese waterreddingstegnieke en kardiopulmonêre resussitasie aan te leer.
Hulle moet egter nooit hul eie lewe in gevaar stel wanneer hulle iemand probeer red wat besig is om te verdrink nie en moet onmiddellik die nooddienste ontbied. “Verdrinking kan binne sekondes gebeur. Voortdurende toesig, verantwoordelike gedrag en die nakoming van waterveiligheidsmaatreëls kan lewens red.”
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


