On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Egpaar lank gemartel in jongste plaasaanval in Noordwes

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:37 Tue, 03 Nov 2026

Egpaar lank gemartel in jongste plaasaanval in Noordwes | News Article
Les Brett. Foto: Facebook

’n Boer en sy vrou is na bewering ure lank gemartel, met kookwater gebrand en herhaaldelik gesteek in nog ’n wrede plaasaanval in Noordwes.

Les en Natasha Brett, albei in hul 60, is Sondagaand (1/11) op ’n wildsplaas in die Broederstroom-omgewing naby Hartbeespoort deur drie gewapende mans oorval. Hulle is vasgebind en byna drie uur lank aangehou terwyl die aanvallers probeer het om hulle te dwing om hul vuurwapens af te staan.  Dit is die derde plaasaanval in dié provinsie in minder as ’n maand.

Die aanvallers het die egpaar na bewering herhaaldelik met ’n mes gesteek, met kookwater gebrand en aangerand. “Die verdagtes het uiteindelik met verskeie vuurwapens en selfone van die eiendom gevlug,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Die Strategic Response Rescue Unit (SRU) is omstreeks 22:30 vir bystand ontbied. Arthur Crewe, bedryfshoof van SRU, sê die eenheid se reaksiespan het op die noodoproep gereageer en binne vier minute daar aangekom. 


Hommeltuie is gebruik om die toneel aanvanklik te beoordeel en die omliggende gebied vir moontlike verdagtes te deursoek. Geen verdagtes is tydens dié aanvanklike soektog opgespoor nie. SRU het saam met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en Harties Emergency Medical Services op die toneel hulp verleen. 

“Die egpaar was aanvanklik huiwerig om hospitaal toe te gaan, maar het wel mediese behandeling op die toneel ontvang.” Hulle het glo later hospitaalbehandeling ontvang. Dit is nie dudelik hoe die aanvallers toegang tot die woning verkry het nie. 

SRU waarsku die diefstal van vuurwapens in sulke aanvalle hou ’n verdere veiligheidsrisiko vir landelike gemeenskappe in. Die eenheid sê gesteelde wapens kan moontlik in ander misdade gebruik word, wat naburige plase, inwoners, ondernemings en veiligheidswagte in gevaar kan stel.

Landelike inwoners moet verdagte bewegings onmiddellik by hul veiligheidsdienste aanmeld en nie self ondersoek instel of moontlike verdagtes probeer konfronteer nie. Inwoners moet eerder binne hul wonings bly, deure en vensters beveilig en hul paniekstelsels aktiveer.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Foto verskaf

Die jongste aanval kom kort ná AfriForum se openbare beroep op die regering om plaasaanvalle met groter dringendheid te hanteer. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het na aanleiding van die aanval verlede week op Donovan Marx, boer van Ventersdorp, ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om hom duidelik teen plaasaanvalle uit te spreek en dié misdade te veroordeel.

“Die president se stilswye oor plaasaanvalle is kommerwekkend, veral te midde van uitsprake deur politieke leiers oor die aanval op Marx, waartydens sy ore afgesny is.”

Kriel het spesifiek verwys na Andile Mngxitama, ’n MK-party-LP,wat op sosiale media beweer het die aanval waarin Marx se ore afgesny is, “dui simbolies op die weiering van gronddiewe om te luister”.

AfriForum meen Ramaphosa se openbare veroordeling van plaasaanvalle is die minimum wat van die president verwag kan word. Dit sal nie bloot simboliese waarde hê nie, maar ook erkenning gee aan slagoffers en die noodsaak beklemtoon om landelike gemeenskappe beter te beskerm.

“Die president het as staatshoof ’n verantwoordelikheid om leiding te neem in die bekamping van plaasaanvalle. Ek doen ook ‘n beroep op ander partye in die regering van nasionale eenheid om druk op Ramaphosa te plaas om ’n standpunt oor dié aanvalle in te neem. Die veiligheid van landelike gemeenskappe is nie ’n saak vir politieke onderhandeling nie – dit is die regering se grondwetlike en morele verantwoordelikheid,” sê Kriel.

AfriForum wil hê plaasaanvalle moet as ’n prioriteitsmisdaad verklaar word en dat ’n doelgerigte strategie ingestel moet word om dié misdade te voorkom en te ondersoek.

Hannetjie van Zyl (55) op 5 Oktober by die plaashek aangeval. Sy is met ’n ysterpyp teen die kop geslaan en het later aan haar beserings beswyk. Marx (50) is Woensdag (28/10) op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp tydens ’n rooftog oorval en wreed gemartel is.

OFM Nuus het navrae aan die polisie gestuur. 

OFM Nuusdg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.