On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Aanrandingsverhoor teen Bloemfonteinse man begin straks binnekort

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:10 Thu, 05 Nov 2026

Aanrandingsverhoor teen Bloemfonteinse man begin straks binnekort | News Article
Jacques Botes en Dumile Dukani. Foto’s: Charne van der Merwe

Die verhoor ná ’n aanranding byna sewe maande gelede in ’n drankwinkel in Bloemfontein, sal na verwagting binnekort begin.

Jacques Botes (25) moet op 2 Desember weer in die Bloemfonteinse landdroshof voorkom. Hy staan tereg op ’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die saak was tot 23 Oktober vir pleit- en verhoordoeleindes uitgestel. 

Hy het intussen ook van regsverteenwoordiger verander; Adriaan Janse van Rensburg sal nou namens hom optree.

Die saak spruit uit ’n voorval op 18 April by ’n drankwinkel in Wilgehof. Die staat beweer Botes het Dumile Dukani onregmatig aangerand deur hom op die grond te stoot en te skop, met die opset om hom ernstig te beseer. Botes ontken die bewerings.

Drankwinkel-aanrandingsaak: Verhoor begin moontlik binnekort | News Article

Jacques Botes. Foto: Charne van der Merwe

Hy het voorheen gesê die voorval het plaasgevind in die drankwinkel waar hy werk en dat Dukani gereeld probleme by die onderneming veroorsaak. 

Dukani het glo gereeld dronk by die winkel opgedaag, werknemers gevloek, drank geëis en dreigemente gemaak wanneer hy nie verder gehelp is nie.

Botes beweer Dukani het op die dag van die voorval weer die winkel binnegekom en ’n vrouewerknemer gedreig, waarna hy ingegryp het om haar te beskerm.

Hy het glo na die voorval aangebied om Dukani te help en vir hom iets gegee om die bloed af te vee, maar Dukani het glo die hulp geweier. 

Die saak is voorheen uitgestel vir die voortsetting van die voorverhoor sodat die staat die volledige J88-verslag kon bekom. Dis ’n mediese verslagvorm wat in strafsake gebruik word.

’n Poging tot bemiddeling tussen die partye was vroeër onsuksesvol.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.