Central SA
Geen wagtydperk om vermiste persoon by polisie aan te meld nie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:34 Thu, 05 Nov 2026
Die Noord-Kaapse polisie herinner die publiek daaraan dat daar geen spesifieke wagtydperk is voordat ’n vermiste persoon by die polisie aangemeld kan word nie.
Die polisie doen ’n beroep op inwoners om enige verdwyning onmiddellik by hul naaste polisiekantoor aan te meld, aangesien vinnige optrede kan help om ’n vermiste persoon op te spoor. Die ondersoek na vermiste persone geniet voorkeur en gemeenskappe se samewerking is noodsaaklik, sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.
Volgens die jongste polisiejaarverslag vir 2024/2025 is 4 924 vermiste persone op die polisie se nasionale verspreidingstelsel aangeteken, terwyl 6 236 gekanselleer is nadat die persone opgespoor is of hul besonderhede van die stelsel verwyder is. Die syfers verwys na die verspreidingstelsel en nie noodwendig na die totale aantal nuwe vermissings wat aangemeld is nie
Die polisie beklemtoon die volgende stappe moet gevolg word wanneer iemand as vermis aangemeld word:
- Meld die persoon onmiddellik by jou naaste polisiekantoor as vermis aan.
- Verskaf, indien moontlik, ’n onlangse foto van die vermiste persoon.
- Gee besonderhede oor waar die persoon laas gesien is, asook ’n beskrywing van die klere wat hulle aangehad het.
- Voltooi en onderteken ’n SAPS 55(A)-vorm. Dit beskerm die polisie teen vals aanmeldings en gee toestemming dat die persoon se foto en besonderhede versprei mag word.
- Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en hou die beampte op hoogte van enige nuwe inligting.
- Indien die vermiste persoon opgespoor word of self terugkeer, moet die ondersoekbeampte onmiddellik daarvan in kennis gestel word.
“Die gemeenskap se samewerking speel ’n belangrike rol in die opsporing van vermiste persone en herbevestig die polisie se verbintenis om alle aangemelde gevalle te ondersoek,” sê Ehlers.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

