Central SA
Noordwes-polisie ondersoek 21 verkiesingsake ná betreklik vreedsame stemproses─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:55 Thu, 05 Nov 2026
Die Noordwes-polisie sal voortgaan om ’n veilige omgewing vir kiesers te verseker en die integriteit van die verkiesingsproses te beskerm, nadat die provinsie die afgelope drie dae betreklik vreedsame stemaktiwiteite beleef het.
Altesaam 21 verkiesingsverwante sake is in die provinsie aangemeld, waarvan agt gedurende die voorverkiesingsfase, ses tydens die spesiale stemproses Maandag (2/11) en Dinsdag (3/11), en sewe op stemdag, Woensdag (4/11). Polisielede is ontplooi om ’n veilige omgewing by 1 730 stemlokale te verseker, sê lt.genl. Peter Adams, provinsiale polisiekommissaris.
Twee verdagtes is op borgtog vrygelaat en drie op waarskuwing. Een is steeds in aanhouding. Altesaam 15 sake word steeds ondersoek, wat onder meer verband hou met die beskadiging van politieke partye se plakkate. Kiesers het glo ook foto’s geneem van ingevulde stembriewe.
Adams sê polisielede het vinnig op enige uitdagings en voorvalle gereageer wat gedurende die verkiesingsproses aangemeld is.

Polisielede het vinnig op enige uitdagings en voorvalle gereageer. Foto: SAPD
Hy het die verskillende rolspelers bedank wat deel was van die veiligheidsontplooiing en gesê hul gesamentlike pogings het gehelp om kiesers in staat te stel om vrylik hul demokratiese reg uit te oefen.
Die Noordwes-polisie sal intussen voortgaan om die 15 sake wat steeds ondersoek word, op te volg en te verseker dat enige verdere verkiesingsverwante voorvalle aandag geniet.
Een van die tragiese voorvalle tydens die verkiesingstydperk was die dood van ’n verkeersbeampte wat na bewering deur ’n dronk bestuurder doodgery is.

Die polisie het ’n mediainligtingsessie gehou. Foto: SAPD
Rendani Maluta (41), ’n provinsiale verkeersinspekteur wat 14 jaar lank in diens van die provinsiale verkeersdepartement in Rustenburg was, is Dinsdag dood in Bophuthatswanastraat in Rustenburg toe ’n bakkie hom getref het. Hy het glo die bakkie probeer voorkeer toe die bestuurder hom raakgery en van die toneel gevlug het.
Die verdagte is later deur ander verkeersbeamptes in hegtenis geneem op ’n aanklag van dronkbestuur. Hy kom na verwagting Donderdag (5/11) voor.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
