On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse man kry lewenslank tronkstraf vir seksuele misdrywe

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:49 Sat, 07 Nov 2026

Vrystaatse man kry lewenslank tronkstraf vir seksuele misdrywe | News Article
Christiaan Francisco Fortleza van der Linde. Foto verskaf

’n Vrystater sal die res van sy lewe agter tralies deurbring nadat hy aan 119 seksuele misdrywe teen minderjarige kinders skuldig bevind is, Hy is drie lewenslange vonnisse opgelê.

Christiaan Francisco Fortleza van der Linde (37) is Donderdag (5/11) in die Welkomse streekhof gevonnis nadat hy op al die aanklagte skuld beken het. “Die misdrywe wat verband hou met die seksuele misbruik en uitbuiting van drie minderjarige kinders het van 2015 tot 2024 plaasgevind,” sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.

Hy is drie lewenslange tronkstraf vir verkragting en mensehandel opgelê, asook verskeie bykomende vonnisse vir seksuele aanranding, seksuele voorbereiding van kinders, seksuele uitbuiting, ontvoering en poging tot moord. Hy is ook skuldig bevind aan verskeie misdrywe wat verband hou met die vervaardiging, besit en verspreiding van kinderpornografie.

Vertrouensverhouding uitgebuit

Senokoatsane sê die beskuldige het tot ’n vertrouensposisie toegang tot sy eerste slagoffer gekry wat destyds tussen 12 en 17 jaar oud was. Hy het haar tussen 2015 en 2020 herhaaldelik seksueel voorberei, aangerand, uitgebuit en verkrag.

“Hy het die slagoffer ook aan vernederende seksuele dade onderwerp en haar gebruik om materiaal van seksuele kindermishandeling te vervaardig wat hy later op ’n pornografiese webwerf verkoop en versprei het.”

’n Tweede slagoffer wat tussen 11 en 14 jaar oud was, is van 2022 tot 2024 geteiken. Die beskuldigde het weer eens ’n vertrouensverhouding uitgebuit om toegang tot die kind te verkry, waarna hy die slagoffer herhaaldelik seksueel misbruik en verkrag het.

Bewyse

“Die beskuldigde het die tweede slagoffer later ontvoer en aan mensehandel onderwerp. Hy het ook probeer om die kind te vermoor in ’n voorval wat met ’n poging tot moord verband gehou het nadat die misdrywe aan die lig gekom het.”

Hy het ook probeer om sy misdade weg te steek deur elektroniese toestelle te beskadig en bewysmateriaal te vernietig. Hy het die tweede slagoffer gemanipuleer en opdrag gegee om materiaal van seksuele kindermishandeling te vervaardig waarin ’n derde minderjarige kind verskyn het – sonder dié kind se medewete. Die materiaal is later in sy besit gevind.


Die verdediging het die hof versoek om van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf af te wyk. Adv. Elma van Niekerk, staatsaankaler, het die aansoek teengestaan en aangevoer daar is geen wesenlike en dwingende omstandighede wat ’n ligter vonnis regverdig nie.

“Die misdrywe was nie geïsoleerde voorvalle nie, maar het deel gevorm van ’n langdurige patroon van berekende en manipulerende gedrag waarin die beskuldigde kinders se vertroue doelbewus uitgebuit het.”

Rosie Dube, hofvoorbereidingsbeampte, het vier slagofferimpakverklarings saamgestel en aan die hof voorgelê. Dit het die ernstige emosionele en sielkundige trauma van die kinders en hul families uiteengesit.

Bykomende tronkstraf

Die staat het ook daarop gewys dat twee van die slagoffers weens die misbruik selfdoodgedagtes ontwikkel het en steeds ernstige trauma ervaar. Die vervolging het kommer uitgespreek oor die onbekende ligging van die intieme foto's en video's wat deur die beskuldigde vervaardig is. “Die materiaal kan steeds versprei word wat die slagoffers aan verdere viktimisasie kan blootstel,” sê Senokoatsane.

Hy het 15 jaar gekry vir poging tot moord en tien jaar elk vir seksuele uitbuiting en die verspreiding van kinderpornografie in. Al die bykomende vonnisse sal samelopend met die lewenslange vonnisse uitgedien word.

Van der Linde se besonderhede sal op die nasionale register vir seksoortreders geplaas word. Hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit, mag nie met kinders werk nie en word verbied om enige elektroniese toestel te besit of te gebruik terwyl hy sy vonnis uitdien.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.