On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

82-jarige sterf in Noordwes-hospitaal – geen teken van naasbestaandes

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:20 Thu, 26 Nov 2026

82-jarige sterf in Noordwes-hospitaal – geen teken van naasbestaandes | News Article
Martha Jacoba Jordaan. Foto verskaf

Die Witrand-hospitaal in Potchefstroom is dringend op soek na die familie van ’n 82-jarige vrou wat byna sewe dekades lank in die sorg van die hospitaal was, maar nooit deur haar naasbestaandes besoek is nie.

Nou, ’n week ná haar dood, het niemand al na vore gekom om Martha Jacoba Jordaan se liggaam op te eis nie. Sy is op 18 November aan natuurlike oorsake in die hospitaal oorlede.

Sy was sedert 1 Julie 1959 in die hospitaal, nadat sy as tienermeisie van die Kimberley-hospitaal na die Witrand- gespesialiseerde hospitaal in Potchefstroom oorgeplaas is. Hoewel Jordaan verstandelik gestremd was, kon sy self rondloop en sekere dinge vir haarself doen, sê Nico Masiu, Witrand-woordvoerder.

Luidens hospitaalrekords het niemand haar ooit in 67 jaar by die instelling besoek nie. Die laaste bekende kontak met haar familie dateer uit 1978 en die hospitaal het geen rekord van ’n adres of kontaknommer van haar naasbestaandes nie.

Familie spoorloos

Sy is nie die enigste pasiënt wie se familie die hospitaal probeer opspoor nie. Bernard Graythorne (53) is in Oktober aan natuurlike oorsake oorlede. Geen familielid of kennis het egter nog na hom navraag gedoen nie. Volgens Masiu sukkel hulle ook om sy naasbestaandes op te spoor.

Graythorne en sy broer is in Mei 1980 van die Vereeniging-hospitaal in Gauteng na Witrand oorgeplaas. “Die broers het aan ’n seldsame, aangebore toestand gely. Graythorne het die verstandelike ouderdom van ’n driejarige kind gehad, terwyl sy broer reeds in 1998 oorlede is,” sê Masiu.

Daar is geen kontakbesonderhede van Graythorne se familie in sy hospitaallêer nie en ook geen aantekening dat enige familielede hom ooit besoek het nie.

'Naasbestaandes moet eers opgespoor word voordat  begrafnis gereël kan word'

Graythorne se ma se naam was Maria Martha Patterson nadat sy weer getrou het. Sy biologiese pa is glo reeds oorlede voordat Graythorne by Witrand opgeneem is. Die laaste bekende adres wat in sy lêer aangeteken is, is Howardweg 53, Benoni.

Masiu sê die hospitaal moet eers probeer om die naasbestaandes van oorlede pasiënte op te spoor voordat begrafnisreëlings gefinaliseer kan word.

Die hospitaal gee families 30 dae ná die hopsitaalpublikasie om na vore te kom. Indien niemand binne dié tydperk opgespoor word nie, sal die hospitaal die proses voortsit en sal die staat die oorledenes as armlastiges begrawe.

Hy sê die hospitaal werk tans saam met die maatskaplike werker om ’n lys saam te stel van pasiënte wie se families of naasbestaandes hulle reeds vyf tot tien jaar lank nie besoek het nie.

'Jong pasiënte sien mettertyd hul versorgers as hul ouers'

“Die doel is om hierdie inligting op rekord te hou sodat die hospitaal in toekomstige gevalle reeds sal weet wanneer daar oor ’n lang tydperk geen kontak tussen ’n pasiënt en sy of haar familie was nie. Dit kan ook help voorkom dat die hospitaal telkens weer ’n openbare beroep moet doen om families op te spoor wanneer iemand sterf.”

Masiu vra terselfdertyd families om die hospitaal in kennis te stel wanneer hulle van telefoonnommer of adres verander, sodat die besonderhede op die stelsel bygewerk kan word.

Hy beklemtoon ook dat besoeke, selfs al is dit nie gereeld nie, vir pasiënte ’n groot verskil kan maak. “Dit gebeur dat pasiënte wat reeds op ’n jong ouderdom by die hospitaal opgeneem word, hul versorgers mettertyd as hul ouers begin beskou omdat hul eie families nooit na hulle kom omsien nie.

“Ek weet dit is nie altyd maklik om besoeke te reël nie, maar waar dit moontlik is, maak tyd vir geliefdes. Selfs al kan jy net een keer per maand of een of twee keer per jaar kom kuier, sal dit baie vir die pasiënte beteken.”

Enigiemand met inligting oor die families van Jordaan of Graythorne word versoek om Witrand se maatskaplike werker by 018 294 9100 te kontak.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.