Central SA
Lichtenburg: Man wat glo polisiebeampte doodry se saak uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:13 Sat, 07 Nov 2026
’n Man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n polisiebeampte met ’n voertuig doodgery het, sal voorlopig in aanhouding bly terwyl sy borgtogaansoek in die hof voortgesit word.
Akilesh Gupta het Vrydag (6/11) in die Lichtenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van moord op ao. Eunice Nortman (55), ’n oortreding van die Immigrasiewet, bestuur sonder ’n geldige rybewys en kwaadwillige saakbeskadiging. “Die saak is tot 8 Desember uitgestel,” sê Lindiwe Mabasa, NVG-woordvoerder.
Die aanvanklike klag van strafbare manslag is verander na moord. Daar word beweer Gupta is ’n Indiese burger wat nie oor geldige dokumentasie beskik om in Suid-Afrika te bly nie. Hy het na bewering die land in 2024 met ’n besoekersvisum binnegekom wat sedertdien verval het.
Nortman, wat by die polisie se misdaadintelligensie-afdeling op Lichtenburg gewerk het, is na bewering op 19 Oktober deur ’n BMW-sportnutsvoertuig getref. Sy was besig om oor ’n voetoorgang by die Lichtenburg Mall in Dr Nelson Mandela-rylaan te stap.
Sy was aan diens toe die voorval plaasgevind het en is later die aand in die hospitaal oorlede. Sy het 34 jaar lank in die polisiediens gewerk.
Beeldmateriaal van die voorval wat op sosiale media versprei is, het sterk reaksie ontlok. Dit wys hoe Nortman oor die voetoorgang stap en met haar hande beduie, blykbaar om die bestuurder te waarsku.
Die voertuig beweeg kort daarna vorentoe en tref haar, waarna sy onder die BMW beland. Die voertuig se wiele beweeg oor haar voordat dit oor ’n randsteen jaag, met ’n kleiner voertuig bots en tot stilstand kom. Gupta is ná voorlopige ondersoeke in hegtenis geneem.
OFM Nuus dg
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
