On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch James
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse vrou saam met haar man in hof oor miljoene-bedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:00 Wed, 25 Nov 2026

Noord-Kaapse vrou saam met haar man in hof oor miljoene-bedrog | News Article
Foto iStock

’n Vrou van Upington kom na verwagting weer op 1 Desember saam met haar man in die spesialishandelsmisdaadhof voor nadat sy ook in hegtenis geneem is vir beweerde bedrog van meer as R4,3 miljoen.

Chirissa Louw (37) is Dinsdag (24/11) in die landdroshof op borgtog van R4 000 vrygelaat. Sy staan tereg op 22 aanklagte van bedrog, sê lt. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder.

Haar man, Livonis Johannes Louw (39), is reeds op 10 Junie deur die Upington-span vir ernstige handelsmisdade in hegtenis geneem. Hy het die volgende dag in die hof verskyn en is ook op borgtog van R4 000 vrygelaat.

Daar word beweer Louw, in sy hoedanigheid as werknemer van Orange River Cellars, het tussen Maart 2024 en Desember verlede jaar opsetlik en onregmatig, met die doel om te bedrieg, sy werkgewer en dié se verskaffers mislei deur die verskaffers se bankrekeningnommers te verander en dit met sy eie persoonlike bankbesonderhede te vervang.

Die beweerde bedrog het tot potensiële verliese van R4 310 568,25 vir die onderneming gelei, sê Thebe. Die egpaar sal na verwagting op 1 Desember saam in die beskuldigdebank verskyn.

Nog ’n Noord-Kapenaar wat van bedrog beskuldig word, sal op 7 Desember in die hof verskyn, dié keer in ’n hoër hof. Werner Veldman (45), oud-bestuurder van ’n Clover SA-tak, het Maandag (16/11) in die Kimberleyse landdroshof verskyn, waar sy saak na die handelsmisdaadhof oorgeplaas is.

Hy word daarvan beskuldig dat hy Clover uit meer as R3 miljoen bedrieg het, sê Thebe. Veldman is vroeër op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Hy staan tereg op ’n aanklag van bedrog, alternatiewelik diefstal, asook oortredings van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (Wet 25 van 2002) en die Maatskappywet.


Oudbestuurder van Clover se bedrogsaak na hoër hof  | News Article

Werner Veldman. Foto verskaf

Hy is deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in Johannesburg in hegtenis geneem en daarna na Kimberley geneem om in die hof te verskyn. Hy het na bewering tussen 1 Januarie en 30 April 2024, terwyl hy as takbestuurder in Kimberley werksaam was, Clover se rekeningkundige stelsel gemanipuleer om sekere transaksies verkeerd aan te teken.

“Fakture wat kontant betaal is, is na bewering in die stelsel as elektroniese bankoorplasings aangedui. Die beweerde bedrog het tydens bankrekonsiliasie aan die lig gekom toe verskille opgemerk is tussen die kontant wat ontvang is en die oorbetalings wat in die stelsel aangeteken is.”

OFM Nuus

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.