South Africa
‘So sal ons Ben Dekker se kuiers onthou’ – egpaar vertel─── 09:52 Wed, 25 Nov 2026
François en Cecilia van Zuydam sal hul vriendskap met die legendariese Ben Dekker altyd koester.
Dekker is op 9 November op 86-jarige ouderdom in die Isilimela-hospitaal naby Port St. Johns in die Oos-Kaap oorlede. Dekker was veral bekend as akteur, natuurbewaarder, digter en kunstenaar aan die Wildekus.
Hy is in 1940 op Centane in die voormalige Transkei gebore. Sy pa, Frietz, was van Friesland en sy ma Bertha, van Indonesië.
Dekker was ’n bosbouer, akteur, storieverteller, digter, omgewingsbewaarder, skilder en beeldhouer. Hy het in 80 rolprente en toneelstukke gespeel, onder andere saam met Sandra Prinsloo.

Ben Dekker. Foto verskaf
Ná ’n diploma aan die Bosboukollege Saasveld en ’n B.A.-graad in filosofie en die skone kunste aan die Universiteit van Kaapstad, het hy ’n meestersgraad aangedurf met die tema “Bantu philosophy”, maar dis om politieke redes afgekeur.
Vir die Van Zuydams van Pennington in Kwa-Zulu Natal was dit spesiaal dat hy hulle vriend was, vertel François. Dekker het gereeld sommer ses weke op ’n keer by hom en Cecilia gekuier.
“Ek het Ben 30 jaar gelede op Port St. Johns aan die Wildekus ontmoet tydens ’n konferensie van die Marine Coastal & Educators Network, en van toe af was hy ’n hegte, ware vriend.
“Wanneer hy by ons op Pennington kom kuier het, het hy ’n bord gekookte boerekos of ’n stukkie braaivleis so geniet. Hy het stadig geëet en elke happie waardeer en sy waardering in ’n sagte stemtoon uitgespreek.”
Dekker was ’n aantreklike man van sowat ses voet sewe duim (net meer as twee meter) en kon sekerlik ’n wêreldbekende akteur geword het, meen François. Sy keuse was om eerder ’n eenvoudige lewe te lei, naby aan die natuur op Port St. Johns.
Nagenoeg 45 jaar gelede het Dekker ’n hut tussen die duine opgerig, net noord van Second Beach, met ’n pragtige see-uitsig. Hy het nie lopende water gehad nie en was sonder krag.
’n Kers was altyd goed genoeg, solank hy net kon lees. Drinkwater het hy opgevang met gevoude piesangblare en ’n geut wat in ’n drom afloop.
Kos het Dekker uit die natuur gekry – ’n groentetuintjie en visnet was al wat hy nodig gehad het om te oorleef. Hy het baie mense geleer om vis en kreef te vang, visnet te gooi, en oesters te pluk. Hy het ook kennis gehad oor watter plante eetbaar was - soos nasturtiums (kappertjies, Tropaeolum majus) en purslane (Portulaca oleracea).

François en Cecilia van Zuydam saam met Ben Dekker op een van hul besoeke aan sy gehuggie in Port St. Johns. Foto verskaf
“Ek onthou toe hy een oggend tydens ’n kuier by ons vroeg na Pennington se strand was en teruggekom het met oesters. Hy het dit vir ons op ’n bord versier met ’n nasturtium-blommetjie. Daar was nie ’n keer dat hy nie teruggekom het van ’n stappie sonder ’n blommetjie of veertjie vir Cecilia nie.
“Hy het op ’n keer ook na die stroompie afgestap en saadjies van die Jobs’-Tears-grasplant (Jobstrane) gaan pluk en vir Cecilia ’n hangertjie gemaak.
“Hy was lief vir ’n selfgemaakte materiaalserp, ’n hoed met vere in, sarongs en Afrika-krale. As mense vir hom klere gegee het, het hy dit maar net op sy beurt weer vir ’n minderbevoorregte gegee.”
Lees was ’n groot deel van sy lewe – tot aan die einde sonder ’n bril. Die biblioteek op Port St. Johns is weekliks deur hom besoek. Hy het ’n buitengewone algemene kennis gehad omdat hy so gelees het, en het veral die National Geografics-tydskrifte verslind.
‘Hy het ’n spesifieke storie menigmaal vertel – van die leeu wat hy bo in Afrika met ’n dolk doodgemaak het’
“Ben was geniaal. Absoluut briljant. Sou jy enige van sy stories of feite betwyfel het, kon jy maar vir mev. Google gaan vra, en sy sou dit bevestig as waar.
“Hy het ’n spesifieke storie menigmaal vertel – van die leeu wat hy bo in Afrika met ’n dolk doodgemaak het. Daardie storie was ek nie so seker van nie – dit was gewoonlik ná ’n bottel Tassies,” vertel François.
Pille vir Dekker? Nee, nooit. Daar was altyd ’n bossie of plant wat enige pyn of kwaal kon uitsorteer. Hy het ook nooit ’n kar in sy lewe besit nie – hy het geloop waar hy wou wees.
’n Paar jaar gelede het hy vir ’n rukkie in Kaapstad by ’n vriend in ’n woonwa gewoon, maar Port St. Johns het hom teruggeroep. Dit was sy gelukkigste tuiste. Dis waar hy wou wees en waar hy sy laaste asem sou uitblaas.
“So twee maande gelede het ons hom besoek by Second Beach, by sy gehuggie, maar tot ons hartseer was daar geen teken van hom nie, ook nie dat hy nog daar woon nie.
“Ons het vir hom eetgoed gelos in die hoop dat hy die hut bedags besoek, maar het die volgende dag by die plaaslike rugsakreisigers verneem dat hy sieklik is. Ons was ongelukkig reeds op pad terug huis toe en kon hom nie groet nie.
“Wat ’n absolute voorreg om hom te geken het. Ons gaan jou mis. Rus in vrede, ou Grote.
“Soos die titel van ’n boek deur ’n vriend, Gerald McCann, wat ’n kamermaat van Ben se studentedae by Saasveld was – Larger than Life – so sal ons jou onthou, Ben.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

