On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch James
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Borgtog vóór Kersfees moontlik vir verdagte in boervrou van Noordwes se moord

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:44 Wed, 25 Nov 2026

Borgtog vóór Kersfees moontlik vir verdagte in boervrou van Noordwes se moord | News Article
Die twee beskuldigdes in die hof. Inlas: Hannetjie van Zyl. Foto’s verskaf

Een van die twee mans wat van die moord op ’n Noordwes-boervrou aangekla word, kan moontlik nog voor Kersfees op borgtog vrygelaat word.

Moleko Sekwaage en Martin Boitumelo Mosime het Dinsdag (24/11) weer in die Ottosdalse landdroshof verskyn, waar hulle teregstaan op aanklagte van moord op Hannetjie van Zyl (55) en roof met verswarende omstandighede. Mosime het sy borgtogaansoek teruggetrek, terwyl Sekwaage steeds om borgtog aansoek doen.

Sy borgtogaansoek sal na verwagting op 15 Desember voortgesit word. Indien die aansoek slaag, kan hy voor Kersfees op borgtog vrygelaat word. Staatsaanklaer Sanet Nothnagel sal egter die aansoek teenstaan weens die erns van die misdrywe en kommer oor die veiligheid van staatsgetuies.

Sekwaage het ook vorige veroordelings van 2011 wat verband hou met aanranding, aanranding met die opset om ernstig te beseer, huisbraak, poging tot diefstal en die besit van dagga. Talle ander sake teen hom, waarvan 16 geweldselemente bevat het, is voorwaardelik teruggetrek.

Ottosdal-plaasmoord: Protes beplan teen borgtog vir twee | News Article

Hannetjie van Zyl is dood ná ’n plaasaanval naby Ottosdal. Foto verskaf

’n Lasbrief is ook vir Mosime se inhegtenisneming uitgereik nadat hy na bewering versuim het om in 2025 in die hof te verskyn in ’n saak waarin hy van trekkerdiefstal beskuldig word.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte ingevolge bylae 6 van die Strafproseswet. Dit plaas ’n swaar bewyslas op hulle om buitengewone omstandighede aan te toon wat hul vrylating op borgtog in die belang van geregtigheid sal regverdig. Albei beskuldigdes het egter in hul beëdigde verklarings, wat in die hof voorgelees is, hul onskuld volgehou.

Twee minderjarige getuies (12 en 14) het na bewering die aanval op Van Zyl gesien. Ao. Kgomotso Mogorosi, ondersoekbeampte, het tydens die borgtogverrigtinge getuig die kinders is bekommerd die beskuldigdes hulle kan doodmaak indien hulle vrygelaat word.

Hannetjie van Zyl en haar man, Sarel. Foto verskaf

Die ooggetuies beweer een van die beskuldigdes, wat hulle glo persoonlik ken, het hulle op die toneel met die dood gedreig indien hulle die voorval bekend maak of hulle uitken.

“Die beskuldigdes ontken enige kennis van die beweerde misdrywe en sê hulle weet nie eens waar die misdaadtoneel geleë is nie. Hulle beweer ook hulle dra geen kennis van die kinders wat na bewering die aanval aanskou het en hulle glad nie ken nie,” sê kapt. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder.

Van Zyl is op 5 Oktober by die plaashek naby Ottosdal aangeval en met ’n ysterpyp teen die kop geslaan. Sy is later aan haar beserings dood.

Intussen is ’n petisie deur Agri Ottosdal tydens die vorige borgtogverrigtinge ingedien. Daarin word strenger en doeltreffender vervolging van plaasmoorde en ander ernstige geweldsmisdrywe gevra.

OFM Nuus

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.