On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vrou van Upington vorder goed ná maagoperasie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:52 Fri, 27 Nov 2026

Vrou van Upington vorder goed ná maagoperasie | News Article
Awie Crossberg tydens ’n besoek aan sy dogter, Marinda Theunissen in die hospitaal. Foto verskaf

’n Maand ná die suksesvolle verwydering van ’n groot maaggewas wat haar lewe bedreig het, is dokters steeds tevrede met Marinda Theunissen se herstel en vordering.

Marinda (42) van Upington het op 26 Oktober die operasie in die Universitas-hospitaal ondergaan. Sy was sowat anderhalf week in die hospitaal voordat sy ontslaan is.

“Dokters moes ’n groot gedeelte van haar maag verwyder, wat beteken dat slegs ’n klein gedeelte, ongeveer so groot soos ’n teelepel, oorgebly het,” sê Awie Crossberg, haar pa.

Die pad na herstel is egter nog nie verby nie. Theunissen moet nog drie rondtes chemoterapie ontvang om die behandeling voort te sit vir enige oorblywende kankerselle.

Marinda en haar drie kinders. Foto verskaf

Haar volgende chemoterapiesessie was aanvanklik vir Donderdag (26/11) geskeduleer, maar moes uitgestel word nadat sy weens nierstene in die hospitaal opgeneem is. Sodra sy herstel het, sal sy weer haar onkoloog besoek om die volgende stappe van haar behandeling te bespreek.

Theunissen sê sy intussen haar dieet aangepas, maar haar maag hanteer die veranderinge goed. “Ek neem dit rustig, soos die dokters aanbeveel het, en dit gaan elke dag beter."

Crossberg sê die familie bly hoopvol dat alles goed sal verloop. “Dit is nou belangrik dat ek my dieet en voedingsaanvullings volgens voorskrif handhaaf om my liggaam sterk te hou vir die komende behandeling.”

Gevorderde maagkanker is vroeër vanjaar by die ma van drie gediagnoseer. Sy het aanvanklik maande lank erge buikpyn, naarheid en onverklaarbare gewigsverlies ervaar voordat dokters die gewas ontdek het.

’n Groot gewas naby die opening na die dunderm het haar spysvertering ernstig belemmer, en sy moes dringend geopereer word. Dokters het ’n alternatiewe opening tussen Theunissen se maag en dunderm geskep om voedseldeurvloei moontlik te maak nadat sy ernstige komplikasies ná haar tweede chemoterapiesessie ontwikkel het.

Sy het onder meer erge diarree, swelling en infeksies ervaar en is aanvanklik by Mediclinic Upington behandel voordat haar behandeling na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorgeneem is.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvdw

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.