On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse boer se toestand onveranderd ná helikopterongeluk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:43 Fri, 27 Nov 2026

Noord-Kaapse boer se toestand onveranderd ná helikopterongeluk | News Article
Wiaan van der Linde. Foto: Wintershoek Safaris

Drie dae nadat ’n Suid-Afrikaanse wildboer ernstig beseer is toe hy tydens ’n wildvangoperasie uit ’n helikopter geval het, bly sy toestand onveranderd.

Wiaan van der Linde, stigter en eienaar van Wintershoek Safaris in Kimberley, is laat Dinsdagmiddag (24/11) in ongewone omstandighede voor Mediclinic Gariep in Kimberley afgelaai nadat hy tydens ’n wildvangoperasie uit ’n helikopter geval het. “Sy toestand is steeds dieselfde en alles is onveranderd,” sê Jana Groenewald, sy dogter.

Hy het sowat 2 m na benede getuimel en verskeie gebreekte ribbes, asook inwendige beserings opgedoen. Van der Linde is per privaat helikopter na Kimberley vervoer en in die waakeenheid van ’n hospitaal opgeneem.

Die Wintershoek-groep maak intussen in ’n verklaring nadere besonderhede oor die voorval bekend om enige bespiegeling oor die omstandighede van die ongeluk uit die weg te ruim. Die groep noem die voorval “’n fratsongeluk”.

Wiaan van der Linde. Foto: Wintershoek Safaris

Luidens die verklaring ontvang Van der Linde die beste moontlike mediese sorg en was sy toestand aanvanklik stabiel. “Hy is opgeruimd en tot almal se vermaak begin hy reeds tekens wys dat hy weer sy ou self is. Sy dokters is baie tevrede met sy vordering.”

Die groep sê die uitdaging is nou om hom rustig te hou en hom die nodige tyd te gun om oor die volgende paar weke te herstel. Dit sal volgens die span vermoedelik makliker gesê as gedaan wees. “Sy herstel bly ’n proses wat van dag tot dag verloop en ons pak dit stap vir stap aan.”

President van Wildlife Ranching South Africa

Die Wintershoek-span betuig hul dank aan almal wat sedert die ongeluk boodskappe van ondersteuning gestuur het, hul besorgdheid uitgespreek en vir hom gebid het. “Dit beteken geweldig baie vir Wiaan, sy familie en ons almal.”

Hy is op Senekal in die Vrystaat gebore en het in 1997 na die Noord-Kaap verhuis. In 1998 het hy as beroepsjagter gekwalifiseer en in 2005 sy eerste grond bekom, waarna die Wintershoek-naam gevestig is.

Hy het van kleins af ’n belangstelling in jag en wildlewe gehad. Volgens Wintershoek se eie agtergrond oor sy loopbaan het sy pa hom reeds op vierjarige ouderdom aan jag en safaritoere bekendgestel. Hy was ook voorheen president van Wildlife Ranching South Africa en is as Noord-Kaapse boer van die jaar aangewys.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.