Central SA
Gewese All Black-rugbyspeler skenk R9,5 miljoen vir mediese studente in Noordwes─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:30 Sat, 28 Nov 2026
Danksy die skenking vir mediese studente hoef geldelike uitdagings nie meer voornemende dokters terug te hou nie.
Dr. Lawrie Knight, gewese slot en losvoorspeler van die All Blacks, het sowat R9,5 miljoen aan die Desmond Tutu School of Medicine van die Noordwes-Universiteit (NWU) geskenk. Dit sal behoeftige studente help om hul graad te verwerf.
Dit het gelei tot die stigting van die Knight-beursfonds wat minstens 12 studente sal ondersteun wat vir ’n MBChB-graad studeer. Die NWU sal die fonds vir ses jaar bestuur en afhangende van elke student se behoeftes kan die beurse klasgeld, verblyf, kos en ander goedgekeurde studiekoste dek.
Vereistes
Aansoekers moet Suid-Afrikaanse burgers wees, aan die toelatingsvereistes vir die program voldoen en kan bewys hulle het finansiële hulp nodig. Die keuringspaneel sal ook eienskappe soos integriteit, deernis en deursettingsvermoë in ag neem. Belangstelling in sport, fisieke aktiwiteit of ander aktiwiteite wat ’n gesonde leefstyl bevorder, sal ook oorweeg word.
Prof. Bismark Tyobeka, visekanselier van die NWU, en prof. Awie Kotzé, uitvoerende dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskappe, verwelkom die skenking en sê dit sal ’n blywende verskil in die lewe van die studente maak. Hulle het ook voornemende skenkers aangemoedig om die skool te ondersteun sodat meer studente finansiële hulp kan kry.
Dankbaarheid
“Ons is dr. Lawrie Knight ewig dankbaar vir hierdie skenking. Dit sal studente wat finansieel sukkel help om ’n veeleisende graad soos die MBChB te voltooi en hul droom bewaarheid om dokters te word,” sê prof. Binu Luke, hoofdirekteur van die Desmond Tutu School of Medicine. Hy sê die skool sal die geld verantwoordelik en oordeelkundig aanwend om studente met uitgawes te ondersteun.
Knight het rugby en sy mediese studie gekombineer en later as dokter in Johannesburg gepraktiseer. Hy het van 1974 tot 1977 altesaam 35 wedstryde vir Nieu-Seeland gespeel, asook ses toetse. In sy laaste toetswedstryd het hy die drie gedruk wat die All Blacks gehelp het om die Britse en Ierse Leeus met 10-9 op Eden Park te klop. Nieu-Seeland het die reeks in 1977 met 3-1 gewen.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

