General
Vandag in die Nuus: 10 September 2022─── 13:49 Sat, 10 Sep 2022
Hierdie is van jou hoofstories vandag, 10 September 2022, soos berig op OFM, die klank van jou lewe.
Eskom het aangekondig dat fase 4-beurtkrag vanaf 10:00 vanoggend tot 05:00 Maandagoggend geïmplementeer sal word.
Dit is om die noodreserwes aan te vul om volgende week beurtkrag na laer stadiums te beperk.
Hierdie aankondiging volg nadat Eskom vroeër die publiek in kennis gestel het dat fase 3-beurtkrag vir die res van die naweek sal geld.
Die kragvoorsiener sê egter dat bykomende onderbrekings oornag nie die noodopwekkingsreserwes aangevul het nie, wat die huidige kapasiteitsbeperkings vererger het.
Inwoners van Sentraal Suid-Afrika word gewaarsku oor weerstoestande wat gunstig is vir die ontstaan en verspreiding van veldbrande.
Hierdie waarskuwing is deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik.
Johan Breytenbach van die Vrystaatse Sambreelbrandbeskermingsvereniging, sê intussen minder veldbrande het gedurende hierdie brandseisoen voorgekom in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar.
Alhoewel die aankondiging dat die verbod op die vervoer van beeste opgehef is wyd verwelkom word, is daar steeds siektebestuursgebiede waar die verskuiwing van beeste verbied word.
Hierdie gebiede is in Limpopo, die Vrystaat en in KwaZulu-Natal geleë.
Die hoofuitvoerende beampte van die Rooivleisprodusente-organisasie, Gerhard Schutte, moedig egter rooivleisprodusente aan om met die nodige erns op te tree en versigtig te wees met die beweging van enige diere - of die inbring van diere op hul plaas.
Wyle koningin Elizabeth se seun, Charles, sal amptelik vandag as koning verklaar word tydens 'n geskiedkundige seremonie by St James's Paleis.
Volgens die BBC, sal dit die eerste keer op televisie uitgesaai word.
Daar sal na verwagting ook verskeie ander proklamasies tot more regoor die Verenigde Koninkryk plaasvind.
Huldeblyke en boodskappe van medelye het intussen ná die afsterwe van koningin Elizabeth ingestroom, met die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, wat sê haar lewe en nalatenskap sal met liefde onthou word deur baie regoor die wêreld.
LUISTER:
