General
Vandag in die Nuus: 14 September 2022─── 18:42 Wed, 14 Sep 2022
Hierdie is van jou hoofstories vandag, 14 September 2022, soos berig op OFM, die klank van jou lewe.
Die Minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, sê dit was onmoontlik om vooraf te weet dat die slikdam-ramp wat Jagersfontein in die Vrystaat Sondag getref het, sou plaasvind.
Die departement sê hy is aan bande gelê deur ‘n bevel van die Hooggeregshof in Bloemfontein in 2007 wat bepaal dat die departement geen jurisdiksie oor mynhope het nie.
Mantashe sê die bevel het die departement verhoed om mynhope te inspekteer.
Hy sê slegs ‘n ondersoek sal bepaal wat gebeur het en daarom is bewerings van nalatigheid voortydig.
Intussen is meer as 560 diere gered nadat die DBV ingegryp het om diere te help wat deur die Jagersfontein-vloed geraak is.
Die Bloemfontein, Virginia, en Kimberley DBVs het elk ingespring om die diere te help red.
Hoofinspekteur vir die DBV in Bloemfontein, Reinette Meyer, sê hulle is nege van die Bloemfontein DBV, twee van Virginia DBV en drie van Kimberley.
R5 miljoen se slaggatskade-eise is deur die Mangaung Metro-munisipaliteit uitbetaal, terwyl 296 eise nog uitstaande is.
’n Skriftelike antwoord aan DA-raadslid Tjaart van der Walt dui aan die eise is tussen Julie 2019 en Junie vanjaar betaal. Die grootste bedrag – meer as R3,7 miljoen – is in die 2021/2022-boekjaar betaal.
Daarbenewens was daar ook geen regstappe as gevolg van versuim om eise binne 'n redelike tyd aan te spreek nie.
Die Dokter Harry Surtie-hospitaal in Upington speel tans gasheer vir die bekende Swaziland-oogspesialis, dr. Jona Pons.
Volgens die hospitaal se dr. Hans Hendriks word dr. Pons deur die Discovery Foundation gefinansier, en het hy 'n span van drie ander mediese dokters wat hom daagliks bystaan met soveel as 35 pasiënte met katarakte en ander oog- of sigkwale by die hospitaal se multi-miljoenrandse oogfasiliteit.
Hendriks sê die doel is om ten minste 100 operasies tydens Pons se tyd in die land uit te voer.
LUISTER:
