General
Vandag in die Nuus: 15 September 2022─── 19:00 Thu, 15 Sep 2022
Hierdie is van jou hoofstories vandag, 15 September 2022, soos berig op OFM, die klank van jou lewe.
Die Vrystaat het skenkings vanaf China ontvang, om mense in Jagersfontein te help.
Die Vrystaatse Premier Sisi Ntombela, het skenkings van komberse en kospakkies van die kantoor van die Chinese konsul-generaal, Zhou Yujiang, ontvang.
Sy sê die mense van China het weer eens hul opregte vriendskap met Suid-Afrikaners betoon en dat sy seker is dat die mense van Jagersfontein die skenking sal verwelkom.
Ntombela het weer eens onderneem om alle gesinne wat deur die slikramp geraak is, by te staan.
Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa Nqakula, het ‘n onafhanklike paneel aangestel om voorlopig te bepaal of voldoende bewyse bestaan vir die Nasionale Vergadering om president Cyril Ramaphosa in ‘n staat van beskuldiging te plaas oor die Phala Phala-debakel.
Die SABC berig die gewese hoofregter Sandile Ngcobo sal die paneel lei - wat moet bepaal of daar prima facie-bewyse is dat Ramaphosa wel aan enige vereistes van artikel 89 van die Grondwet voldoen het ingevolge waarvan hy uit sy amp onthef kan word.
Die Vrystaatse Premier, Sisi Ntombela sê misdade soos veediefstal, kapings, dwelmhandel en moord kan nie geïgnoreer word nie en moet hanteer word.
Tydens ‘n byeenkoms onder die tema “Veiligheid met samewerking op plaaslike vlak”, wat deur die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Polisiediens gehou is, het die Premier beklemtoon dat vroue en kinders beskerm moet word.
OFM-nuus korrespondent Mia-Leigh Cloete berig Nbombele sê dit aangesien hulle die waardevolste teen geweld is en dié provinsie al reeds meer as 1600 geslagsbaseerde geweldsake aangemeld het.
Die elektrisiteitskrisis in Harrismith word aangespreek.
Dit is volgens die Maluti-a-Phofung (MAP) munisipaliteit se woordvoerder, Thabo Kessah, wat in 'n mediaverklaring sê ’n diensverskaffer is aangestel.
Kessah het herhaal dat dit in hierdie stadium nog moeilik is om te skat wanneer die werk voltooi sal wees, aangesien elke fase veelvuldige toetse sal moet ondergaan.
EN in nuus uit die buiteland: Die liggaam van koningin Elizabeth lê in staatsie in die Westminster-saal in Londen nadat haar kis met ‘n seremoniële prosessie daarheen geneem is.
Die koninklike vlag is oor die kis gedrapeer, met haar kroon en septer daarop. Koning Charles en sy seuns, William en Harry, het saam met ander koninklikes, onder wie Prinses Anne, Prins Andrew en Prins Edward, van die Buckingham-paleis agter die kis aangestap tot by Westminster.
LUISTER:
