General
Vandag in die Nuus: 29 September 2022─── 18:25 Thu, 29 Sep 2022
Hierdie is van jou hoofstories vandag, 29 September 2022, soos berig op OFM, die klank van jou lewe.
Die Grondwethof het oudpresident Jacob Zuma se poging van die hand gewys om die voormalige hoof van die Appèlhof, Mandisa Maya, te dwing om Zuma se poging om aanklaer - Billy Downer - van sy korrupsieverhoor te verwyder, te heroorweeg.
News24 berig Zuma het die hof gevra om hom verlof te gun om te appelleer teen regter Piet Koen - wat die voormalige president se spesiale pleitaansoek - om Downer van sy korrupsiesaak te verwyder - verwerp het.
Zuma moet weer op 17 Oktober in die hof verskyn.
Die arrestasie van die voormalige minister van Minerale Hulpbronne en Energie is nie die einde van sy politieke loopbaan nie.
So sê 'n politieke ontleder van die UV - Professor Sethulego Matebesi.
Mosebenzi Zwane het gister saam met twee verdagtes in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, diefstal, geldwassery en korrupsie rakende die berugte R288 miljoen Estina suiwelprojek.
Beurtkrag gaan vir eers nie tussen Fase 3 en 4 afgewissel word nie, weens ‘n tekort aan dieselvoorraad.
Eskom het vroeër aangekondig dat hy vir eers slegs Fase 4 gaan toepas totdat sy dieselvoorraad aangevul is.
‘n Vragskip met dieselvoorraad kon nog nie weens rowwe seetoestande in Mosselbaai vasmeer nie. Hoëvlakbeurtkrag geld die afgelope paar weke in die land te midde van instandhoudingsprobleme en ander tegniese krisisse by verskeie Eskom-kragstasies.
Die adjunkminister van maatskaplike ontwikkeling, Hendrietta Bogopane-Zulu, het sekswerkers en verskillende burgerlike organisasies in Kimberley toegespreek.
Daar is glo planne om die bedryf teen 2024 te dekriminaliseer. Menigte werkers in die Noord-Kaap sê die vertraging in die dekriminalisering van hul beroep stel hul lewens in gevaar, en maak inbreuk op hul regte om 'n inkomste te verdien.
Zulu sê gesprekke duur voort.
IN DIE BUITELAND: Die Amerikaanse visepresident, Kamala Harris, het in Suid-Korea aangekom, nadat Noord-Korea gister twee ballistiese missiele aan die land se ooskus afgevuur het.
Owerhede in Suid-Korea en Japan het die missieltoetse bevestig, en dit as uitlokkende gedrag bestempel.
AFP berig Noord-Korea word deur die Verenigde Nasies verbied om ballistiese missiele of kernwapens te toets.
Die missieltoetse is vermoedelik in reaksie op gesamentlike oefeninge deur Suid-Koreaanse en Amerikaanse soldate, wat Dinsdag plaasgevind het.
LUISTER:
