General
Eksklusiewe Onderhoud: TLU SA-hoofbestuurder sterk aan ná hartaanval─── 12:35 Tue, 29 Nov 2022
Die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) se hoofbestuurder sterk aan in die waaksaal van ’n Pretoriase hospitaal nadat hy Sondagmiddag ’n hartaanval gehad het.
Bennie van Zyl het eers nie besef dit was ’n hartaanval nie, maar is Maandag dokter toe met borspyn, wat hom dadelik in die hospitaal laat opneem het. Hy kry Donderdag ’n aaromleiding.
Hy sê ’n mens aanvaar dikwels jou gesondheid as vanselfsprekend en skielik tref die teëspoed jou, maar dis belangrik om te weet wanneer om hokaai te roep.
Hy skerts dis verbasend dat iemand in so ’n raserige plek gesond kan word, maar hy sê hy stap die herstelpad in geloof
TLU SA se algemene raad en uitvoerende komitee wens Van Zyl alle sterkte en 'n vinnige herstel toe. "Ons wil ook van die geleentheid gebruik maak om media en besorgdes te vra om Bennie en sy familie se privaatheid in dié tyd te respekteer en hom genoegsame tyd vir herstel en rus te gee. Ons sal, soos nodig, alle rolspelers op hoogte hou,” sê Henry Geldenhuys, TLU SA-president.
Intussen word die media versoek om Geldenhuys, TLU SA adjunk-president Wannie Scribante, of streeksbestuurder: sentraal Lynette du Plessis met TLU SA-medianavrae te skakel.
