On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

General

Mishandelde baba se ouers kry 14 jaar tronkstraf

───   10:52 Fri, 03 Mar 2023

Mishandelde baba se ouers kry 14 jaar tronkstraf | News Article

Die ouers van ’n ses maande oue baba, wat tussen Maart 2020 en Julie 2020 onder meer 31 beenfrakture opgedoen het, is effektief 14 jaar tronkstraf opgelê.

Die ouers van ’n ses maande oue baba, wat tussen Maart 2020 en Julie 2020 onder meer 31 beenfrakture opgedoen het, is effektief 14 jaar tronkstraf opgelê.

Hulle het hul babadogtertjie só  geslaan dat dit haar met gebreekte ribbes, sleutelbene en bene gelaat het. Hul skuldigbevinding en swaar vonnis sou nie moontlik gewees het sonder die ingryping van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, wat dokters bygestaan het om ’n strafsaak te open nie. Die eerste saak wat aangemeld was, is onverklaarbaar gesluit.

Die ma en pa van Pretoria het die bewerings ontken, maar is skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer, en kinderverwaarlosing. Die strafregtelike klag is op 24 Julie 2020 ingedien. Die vonnis is op 20 Februarie 2023 in die Pretoriase Hooggeregshof opgelê.

Die babadogtertjie, na verwys as Baba N, is in April 2020 vir die eerste keer in 'n Pretoriase hospitaal opgeneem met beserings wat ooreenstem met kindermishandeling. Sy was toe net vyf weke oud. Haar dokters en ’n private maatskaplike werker het toe ’n klag by die polisie en die departement van Maatskaplike Ontwikkeling ingedien. Die bewerings het ingesluit dat die baba se ribbes op 15 plekke gebreek is. Terwyl dit aanvanklik ondersoek is en die kind in sorg geplaas is, het die polisie die dokters ingelig dat die saak gesluit is weens 'n gebrek aan bewyse. Baba N is aan haar ouers se sorg terugbesorg.

Skaars drie maande later op 1 Julie 2020 is Baba N weer opgeneem met longontsteking, skok en dehidrasie. Sy het ook baie minder geweeg as wat normaal is vir 'n baba van haar ouderdom en was baie honger. Verdere toetse het aangedui dat haar sleutelbeen twee tot drie weke voordat sy opgeneem is, gebreek het. ’n MRI-skandering het beserings getoon wat heel waarskynlik veroorsaak is deur die baba wat gewelddadig geskud is. Albei haar femurs was gebreek, en die tekens van verskeie gebreekte ribbes was steeds sigbaar. Die dokters wat haar ondersoek het, het almal saamgestem dat dit waarskynlik die gevolg was van die baba wat herhaaldelik mishandel is.

Dit was toe dat die dokters die Privaatvervolgingseenheid genader het, wie se ondersoekers omvattende verklarings van al die betrokke partye geneem het en die dossier saamgestel het wat aan die polisie voorgelê is, dat die tweede saak teen die ouers geopen is. Na verdere druk van die eenheid het die polisie die egpaar in hegtenis geneem, en die vervolging het gevolg.

Die getuienis wat deur die Privaatvervolgingseenheid ingesamel is, is in die hof aangebied en het aan die lig gebring dat Baba N tussen Maart 2020 en Julie 2020 altesaam 31 beenfrakture opgedoen het.

Regter Hennie de Vos het in sy uitspraak besin oor die beserings wat die baba opgedoen is. “Die misdrywe wat gepleeg is, is so ernstig dat 'n swaar vonnis opgelê moet word. Na my mening is direkte gevangenisstraf onvermydelik. Baba N was weerloos en nie in staat om haarself te beskerm nie. Sy was afhanklik van die liefde, toegeneentheid en beskerming van haar ouers. In plaas daarvan is haar ribbes gebreek, die femur is gebreek, en sy het 'n kneusplek op haar ken en prevertebrale sagteweefsel swelling van haar nek opgedoen. Sy was erg ondervoed,” het hy gesê.

Woordvoerder van die Privaatvervolgingseenheid, Barry Bateman, het die dokters en maatskaplike werkers geloof wat voorkom her dat die kind verder ly. “Sonder die ingryping van die dokters en ander professionele persone sou hierdie baba moontlik aan die hand van haar ouers gesterf het. Kindermishandeling en verwaarlosing is van die vele plae wat die kwesbaarstes in die samelewing in die gesig staar. Ons benodig mediese professionele persone en versorgers wat sulke gevalle teëkom om standpunt in te neem, soos deur die wet van hulle vereis word.

“Ons komplimenteer die aanklaer vir haar professionele en bekwame vervolging. Dieselfde kan nie vir die SAPD gesê word nie. Sonder die ingryping en druk van die Privaatvervolgingseenheid sou die saak waarskynlik gesluit gewees het soos die vorige saak. Die publiek word voortdurend vertel hoe die regering geweld teen vroue en kinders ernstig opneem, maar ons sien nie dat dit deursyfer na die polisie op die grond nie,” het Bateman gesê.

Persverklaring/OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.