General
Nuwe slimbril help as gesprek begin ‘um en aa’─── 09:37 Thu, 15 Jun 2023
Sê koebaai vir ongemaklike stiltes tydens romantiese afsprake en werksonderhoude danksy 'n slimbril, genaamd RizzGPT, wat deur 'n groep universiteitstudente van Stanford in Kalifornië ontwerp is.
Danksy RizzGPT se ingeboude charisma hoef jy nooit weer na woorde te hap nie (die woord "rizz" is Gen Z-omgangstaal vir charisma).
Die RizzGPT-bril is 'n ronde skerm wat soos 'n monokel lyk en aan ’n gewone bril vasknip. Dit is toegerus met 'n kamera en mikrofoon.

Die RizzGPT is ’n skerm met ’n ingeboude mikrofoon en kamera wat aan ’n gewone bril vasknip. FOTO: The Inner Detail
Dit “luister” na jou gesprek en wanneer jy vashaak, flits dit woorde op die skerm wat jy dan kan gebruik om die gesprek te laat vloei, volgens 'n artikel op News24.
Volgens Futurism het die span studentenavorsers, onder leiding van Bryan Chiang (22) met die slimbril vorendag gekom deur OpenAI se ChatGPT-kletsbot te kombineer met 'n monokel van Brilliant Labs. OpenAI se spraakherkenningsagteware, Whisper, laat die bril toe om spraak direk aan die kletsbot te voer, wat woorde binne 'n kwessie van sekondes kan verskaf.
'n Kort YouTube-video wys hoe die bril in 'n skynonderhoud in die werk gesteek word: Die onderhoudvoerder vra die aansoeker wat sy sterkpunte is, waarna die sagteware wat in die bril ingebou is, 'n antwoord op die lens projekteer wat deur die aansoeker hardop gelees word.
Die gesprek verloop wel ietwat stamelend, maar Chiang wys daarop dat die RizzGPT net 'n prototipe is.
“Die doel is nie om dit so gou moontlik te kommersialiseer nie, maar om mense te wys hoe die toekoms kan lyk en om 'n nuwe vorm van interaksie tussen mense en rekenaars te demonstreer,” sê Chiang.
‘Dit is nuttig vir mense met sosiale angs wat sukkel om met ander te praat’
Volgens Euronews het hy in Maart vanjaar 'n groep vriende in sy koshuiskamer bymekaargekry om sagteware binne 'n paar ure op 'n Saterdag te kodeer en in 'n virtuele realiteit-monokel in te bou. RizzGPT is gekodeer om gesprekke met behulp van 'n mikrofoon te monitor, dit in teks te omskep en dit na ChatGPT se kletsbot oor Wi-Fi oor te dra om 'n reaksie te genereer.
Chiang sê hy worstel nog met goggas wat die teks moeilik kan maak om te lees en die tydsvertraging van vyf sekondes wat die "charismatiese" reaksies 'n bietjie ongemaklik kan laat voel.
“RizzGPT is nie bedoel om gesprekke te vervang nie. Hierdie is vir nou net 'n persoonlike projek om mense nuwe maniere van interaksie met ontwikkelende tegnologie te wys.
“Dit is eintlik bedoel om jou te inspireer, nie om jou presies voor te sê wat om te sê nie. Ek dink dit kan ongelooflik nuttig wees vir mense met sosiale angs wat sukkel om met ander te praat.”
Skakels:
https://futurism.com/the-byte/smart-glasses-gpt-4
