On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Health

Borsvoeding behoort ’n plek in elke werkende ma se kantoor te hê

───   ELSABÉ DE JAGER 13:02 Mon, 31 Jul 2023

Borsvoeding behoort ’n plek in elke werkende ma se kantoor te hê | News Article

Wat ’n baba in die eerste twee jaar van sy of haar lewe drink en eet, is van groot belang

Dit is die omvattende uitspraak wat Wêreldborsvoedingsweek vandeesweek inlui. Van 1 tot 7 Augustus word vanjaar se tema “Kom ons laat borsvoeding werk by die werk”, wyd gehoor en bespreek, ook in Sentraal-Suid-Afrika.

Vanessa Booysen, borsvoedingskonsultant en dosent in verpleegkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, sê Wêreldborsvoedingsweek word jaarliks gereël deur die Wêreldraad van Gesondheid en Unicef. Die aanbeveling dat ’n ma ses maande uitsluitlik moet borsvoed, beteken ’n baba moet in hierdie tyd net borsmelk kry.  


Aangesien die meeste Suid-Afrikaanse vroue net drie tot vier maande of selfs minder kraamverlof kry, onderbreek die ma se terugkeer werk toe dié tydperk van ses maande.  Dit lei dus dikwels tot voortydige formulemelkaanvullings.

Vanessa Booysen, Universiteit van die Vrystaat. Foto verskaf

Haar werksomgewing ontneem die ma dikwels ook van enige privaatheid waartydens sy na regte elke twee uur haar eie melk moet verskaf. Dié situasie, in vergeleke met baie Europese lande, is kommerwekkend. Daar duur kraamverlof dikwels tot twee jaar, waartydens die pa ook ’n lang tyd tuis by sy gesin kan wees.

Booysen sê as verpleegkundige vra sy dat alle werkplekke ingerig word vir borsvoedende ma’s. Elke ma het die reg om haar baba wel ses maande te borsvoed. Geen ma behoort voor die moeilike keuse gestel te word tussen voortgesette borsvoeding, haar kind en haar werk nie. Haar kind se welsyn kom altyd eerste.

Elke ma moet reeds vóór haar kind se geboorte raad kry oor die eise wat borsvoeding aan haar gaan stel, byvoorbeeld by ’n borsvoedingskonsultant, wat die ma ook pas ná geboorte sal bystaan.

Borsvoeding moet ’n plek in enige werkende ma se lewe hê. Foto verskaf

Die Wêreldgesondheidsraad sê borsmelk is ook noodsaaklik omdat dit voedingstowwe en teenliggaampies verskaf wat babas teen verskeie infeksies en siektes kan beskerm. Dit verminder ook die risiko van allergieë, asma, vetsug en sekere kindersiektes.

Borsvoeding vorm ’n sterk emosionele band tussen ma en kind. Die baba voel veilig en geborge. Aangesien borsmelk lewend is, bestaande uit selle, organismes, ensieme en noodsaaklike vetsure, kan borsvoeding lei tot beter breinontwikkeling.

Die bevordering en ondersteuning van borsvoeding kan bydra tot gesonder babas en moeders, en is ook goed vir die omgewing omdat besoedeling deur blikke formulemelk voorkom kan word.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.