Central SA
‘Barbie-dwelm’ wek kommer: Kenners waarsku teen gevaarlike sonbruin-neiging─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:50 Thu, 12 Nov 2026
Die gewilde “Barbie-dwelm”, wat op sosiale media bemark word as ’n vinnige manier om ’n sonbruin gloed te kry, kan ernstige gesondheidsrisiko’s inhou.
Kenners waarsku die middel se veiligheid is nie bewys nie. Gebruikers kan hul gesondheid vir ’n kosmetiese resultaat op die spel plaas.
Die middel, wat bekendstaan as Melanotan II, stimuleer die vel se pigmentproduksie om ’n donkerder gelaat te skep, sê dr Judey Pretorius, ’n biomediese wetenskaplike.
Dit word aanlyn as pille, inspuitings en neussproei verkoop, maar word nie deur gesondheidsowerhede soos die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-administrasie (FDA) goedgekeur nie.
“Die neiging het veral gewild geword namate mense voor die somervakansie ’n sonbruin voorkoms sonder langdurige blootstelling aan die son wil hê. Langdurige blootstelling aan ultravioletstrale (UV) kan egter tot sonbrand, voortydige veroudering van die vel, pigmentvlekke en velkanker lei,” sê Pretorius.

Om in die son te lê en bruin te word lyk dalk mooi, maar min mense besef hoe gevaarlik dit werklik vir jou vel en gesondheid kan wees. Foto: iStock
Een van die grootste problem is dat die veiligheid en doeltreffendheid van Melanotan II nie behoorlik vasgestel is nie. Sy sê produkte wat aanlyn verkoop word, kan onbekende bestanddele of besoedeling bevat, wat beteken dat gebruikers nie noodwendig weet wat hulle inneem of inspuit nie.
Daar is ook kommer oor die middel se uitwerking op moesies en ander gepigmenteerde velletsels. Sommige gebruikers het nuwe moesies en veranderinge aan bestaande moesies aangemeld, wat dit moeiliker kan maak om verdagte velveranderinge betyds raak te sien.
Hoewel gevalle van melanoom ná die gebruik van Melanotan II aangemeld is, bewys dit nie dat die middel die kanker direk veroorsaak het nie.
' ’n Donkerder velkleur bied boonop nie beskerming teen skadelike UV-strale nie'
Nog aangemelde newe-effekte sluit naarheid, braking, hoofpyn, rooiheid van die gesig en veranderinge in eetlus in. Ernstiger komplikasies, waaronder nierskade en spierskade, is ook gedokumenteer.
Pretorius waarsku dat inspuitings van ongereguleerde middels bykomende gevare inhou, soos infeksies, besmetting en verkeerde dosering. Anders as goedgekeurde medisyne, is hierdie produkte nie aan dieselfde gehaltebeheerstandaarde onderhewig nie.
’n Donkerder velkleur bied boonop nie beskerming teen skadelike UV-strale nie. Melanotan II kan dus nie as ’n alternatief vir sonskerm of ander vorme van sonbeskerming beskou word nie.

Gewildheid op sosiale media beteken nie dat ’n produk behoorlik getoets of veilig is nie. Foto: Westlake Dermatology
Dit is nie net inspuitings en neussproei wat kommer wek nie. Sommige sonbruinpille bevat canthaxanthin, ’n kleurstof wat in liggaamsweefsel kan ophoop wanneer dit in groot hoeveelhede ingeneem word.
Die FDA waarsku dié produkte kan onder meer kleurstofneerslae in die retina van die oog veroorsaak, wat sig kan beïnvloed. Lewerprobleme en ander nadelige gesondheidseffekte is ook moontlik.
Topikale selfbruinprodukte, soos rome en lotions wat die buitenste laag van die vel verkleur, word oor die algemeen as veiliger alternatiewe beskou wanneer dit volgens die aanwysings gebruik word.
Dit beteken egter nie dat gebruikers hulself aan die son kan blootstel sonder beskerming nie. Breëspektrum-sonskerm, beskermende klere en ander sonbeskermingsmaatreëls bly noodsaaklik.
Pretorius sê sosiale media het dié produkte aantrekliker laat lyk as wat dit werklik is. Beïnvloeders wys dikwels die resultate sonder om noodwendig die moontlike newe-effekte, onsekerheid oor langtermynveiligheid of gevare van ongereguleerde produkte uit te lig.
“Gewildheid op sosiale media beteken nie dat ’n produk behoorlik getoets of veilig is nie. Hoewel die sogenaamde Barbie-dwelm ’n maklike kortpad na ’n sonbruin voorkoms belowe, weeg die moontlike gesondheidsrisiko’s volgens mediese kenners swaarder as die kosmetiese voordeel,” sê sy.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

