Health
Baat by perdeondersteunde psigoterapie─── 09:00 Fri, 13 Oct 2023
Dr. Carel van Wyk van die Universiteit van die Vrystaat en Annemarie du Plessis van Tristone Stables in Bloemfontein sluit by Mid-Morning Magic se Yolanda Maartens aan om te praat oor die besondere wyse waarop perde mense kan help.
In perdeondersteunde psigoterapie bestaan die terapeutiese span uit 'n professionele terapeut en 'n perdekenner. Die terapeut is veral verantwoordelik vir die opstel van terapeutiese behandelingsplanne, die byhou van prosesnotas, asook die beoordeling van die vordering wat die pasiënt maak. Van Wyk vertel van sy rol as professionele terapeut en Du Plessis van haar rol as perdekenner in hierdie sessies wat by Tristone Stables aangebied word.
In die terapeutiese sessies behels die vernaamste take van die perdekenner die vertolking van die perde se gedrag aan die terapeut, om die terapeutiese sessie op die perde toe te spits, asook om die liggaamlike veiligheid van mens en perd te verseker. Die terapeut en die perdekenner is gesamentlik verantwoordelik vir die beplanning van die perdeaktiwiteite vir die pasiënte. Hulle besluit dus gesamentlik watter soort perdeterapie die gepaste sal wees om 'n terapeutiese doelwit te bereik.


