Health
Pas só aan ná diagnose van chroniese siekte─── 13:41 Thu, 15 Feb 2024
“Beplan jou dag so dat jy die belangrikste take doen wanneer jy die meeste energie het.”
Jy sit in die dokter se spreekkamer… Jy word vertel ’n chroniese siekte is by jou gediagnoseer. Dis angswekkend en die warboel van gedagtes wat deur jou brein flits, weerkaats niks behalwe negatiwiteit nie.
Daar is soveel vrae wat deur jou kop maal dat dit voel asof jou wêreld tot stilstand gekom het. Wel, vir jou het die aarde ophou draai…
Die dinge wat jy altyd kon doen, kan jy nie meer doen nie. Die gevoel van hopeloosheid en woede het ’n roetine geword. Waar is die gat waarin ek kan klim en nooit weer uitkom nie?

Foto: Unsplash/Darius Bashar
Die eerste vraag is altyd: Hoekom ek? Wat het ek verkeerd gedoen om hierdie siekte te verdien?
Daar is verskeie redes waarom ‘n persoon ‘n ongeneeslike of kroniese siekte kan ontwikkel. Medici het ook die meeste van die tyd ‘n antwoord vir alles. Maar of jou liggaam gaan saamstem met al die medikasie en behandeling, is ‘n ander saak.
Ons is nie almal voëls van eenderse vere nie. Elke individu is uniek en daarom sal elke persoon en sy/haar liggaam verskillend reageer. Moet jou nooit met ’n ander vergelyk nie!

Foto: Unsplash/Christian Erfurt
Ons almal weet ook dat die newe-effekte van medikasie definitief nie jou maat is nie. Medikasie en behandeling kan gebruik word en voorgeskryf word op ‘n “one size fits all” -basis wat dan newe-effekte tot gevolg het. Die mees algemene is depressie, angstigheid, gewigstoename en so kan die oneindige lys net voorthardloop.
Om eerlik te wees, in vandag se tyd gaan baie mense gebuk onder konstante pyn, ly aan depressie en raak maklik angstig
Pyn veroorsaak dat ’n mens nie die krag het om jou daaglikse take te verrig nie. Die passie wat jy vir die lewe het, het soos mis voor die son verdwyn. ’n Mens is geïrriteerd, gefrustreerd en kwaad. En wat is die maklikste? Jou geliefdes word die slaansak om jou beter oor jou omstandighede te laat voel. Dit is een van die grootste uitdagings om jou emosies te beheer, want jy voel dat niemand verstaan waardeur jy gaan nie.
Om eerlik te wees, in vandag se tyd gaan baie mense gebuk onder konstante pyn, ly aan depressie en raak maklik angstig. Elke persoon is verantwoordelik om hulself te motiveer, aan te moedig en die saak positief te benader, al is dit hoe moeilik. Makliker gesê as gedaan!

Foto: Unsplash/Surface
Wenk 1: Begin by jouself
Geluk is jou eie verantwoordeliheid. Niemand gaan jou kan motiveer of gelukkig maak nie; jy moet self daardie besluit neem. Besluit wat jou gelukkig maak en teer daarop.
Wenk 2: Aanvaarding
Aanvaar dat jy siek is en dat daar dae gaan wees wanneer jy hopeloos en alleen gaan voel. Erken daardie gevoel en skryf dit neer. Dit is belangrik dat ’n mens moet glo dat God niks oor jou pad sal bring wat jy nie kan hanteer nie.
Wenk 3: Luister na jou liggaam
Baie mense gaan raad gee oor hoe om jou pyn te hanteer en wat jy moet doen om beter te voel. Laat dit by die een oor in en by die ander oor uit. Niemand weet regtig waardeur jou liggaam gaan en hoeveel pyn jy werklik het nie, want hulle is nie in jou skoene nie. Doen die dinge waarmee jou liggaam gemaklik is. Jou liggaam sal vinnig met jou raas as hy nie jou aksies goedkeur nie. Luister na hom!

Foto: Unsplash/Keegan Houser
As jou kop wil bars van ’n nare hoofpyn, is dit nie noodwendig ’n breingewas nie. Vele faktore kan daartoe aanleiding gee. Besluit of paranoia baas of Klaas gaan wees. Klim van jou selfbejammeringsperdjie af, staan op, kry ‘n “Grandpa” en die lewe gaan weer aan.
Maar – daar is altyd ’n maar – matigheid voor oë! Pynmedikasie kan verslawend wees, so moenie in daardie strik trap nie.
As dokters meer oefening en minder pynmedikasie voorskryf
Wenk 4: Oefening
Oefening is baie goeie medisyne. Doen oefeninge en aktiwiteite waarvan jy hou. Of dit nou dans, swem, in die gimnasium oefen of ’n stappie om die blok is, oefen net! Dit mag moeilik in die begin wees, maar moenie die handdoek ingooi nie. “It is all in the mind” – glo in jouself en jou vermoëns.
In ’n japtrap sal jou liggaam aanpas by jou nuwe roetine en as jy weer kyk, het die oefengogga jou gebyt!

Foto: Unsplash/Bruno Nascimento
As dokters meer oefening en minder pynmedikasie voorskryf, sal die wêreld ’n beter plek word.
Wenk 5: Beheer jou energie, nie jou tyd nie!
Beplan jou dag so dat jy die belangrikste take doen wanneer jy die meeste energie het. As jy jou energie kan beheer, sal die horlosie se wysers al stadiger “tik, tik, tik”...
Raak ontslae van “tyddiewe” en hulle lang vingers
Onthou dat jy ses dae per week tot jou beskikking het. Probeer om nie alles by ’n Maandag in te prop nie – die lug is reeds blou; ons het nie nog blou Maandae ook nodig nie. Raak ontslae van “tyddiewe” en hulle lang vingers. Moenie toelaat dat onnodige dinge, mense en aktiwiteite jou tyd steel nie. Konsentreer op die belangrikste.
Bring tyd deur saam met jou hartsmense wat vir jou lief is en vir jou omgee. Vermy negatiewe mense wat konstante drama veroorsaak. Vir hulle gaan alles oor hulsef en die eie ek is nie ’n baie aangename persoon nie.

Foto: Unsplash/Samuel Mcgarrigle
Doen wat vir jou lekker is, aanvaar jou nuwe normaal en soek jou krag by God.
Hy is al een wat werklik verstaan en jou die krag sal gee om aan te gaan. Hy sal nie noodwendig jou siekte genees nie, maar Hy sal wel jou hand in Syne hou en die pad saam met jou aandurf.
Hou altyd jou hand in God s’n
Hou moed, wees positief, gryp elke geleentheid aan, maak mooi herinneringe, neem baie foto’s en hou altyd jou hand in God s’n.
Die lewe is soos ’n toffie – taai maar lekker. Byt vas en sorg dat jou Colgate-smile jou lewenspad sal ophelder.
