On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Health

Allergies vir koring of gluten? Dís die verskil

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:49 Thu, 06 Jun 2024

Allergies vir koring of gluten? Dís die verskil | News Article
Foto: iStock

“Die beste manier om kosse wat koring bevat te vermy is deur altyd die voedseletikette deeglik na te gaan.”

Mense verwar dikwels koringallergieë en glutenintoleransie.

Koringallergieë word by ongeveer 1% van kinders gediagnoseer, hoewel twee derdes van hierdie kinders hul koringallergie teen die ouderdom van twaalf ontgroei, sê dr. Chantelle van der Bijl, ook bekend as Bloem MomDoc op sosiale media.

“Dit is egter nie ongewoon dat iemand ’n koringallergie het wat lewenslank aanhou nie.”

Foto: iStock

Van der Bijl sê mense is dikwels verward wat koring- en glutenallergie betref. “Koringallergie is ’n allergiese reaksie wanneer iemand met ’n koringallergie aan koring blootgestel word.

“Dit veroorsaak ’n immuunrespons met simptome wat wissel van lig tot ernstig. Die vel sal jeuk of swel. Sekere mense ervaar krampe, naarheid, braking en diarree, asook hoofpyn, neusverstopping of ’n geswelde keel.”

‘Dit kan ook ’n uitslag en tongletsels veroorsaak’

Glutenallergie is egter ’n outo-immuunafwyking. Die liggaam val die ingewande aan met immuunselle en teenliggaampies ná blootstelling aan gluten in koring en verwante graan.

“Hierdie reaksie kan lei tot simptome soos diarree, gewigsverlies en neurologiese probleme van vitamientekorte,” sê Van der Bijl. “Dit kan ook ’n uitslag en tongletsels veroorsaak.”

Sy vertel die beste manier om kosse wat koring bevat te vermy is deur altyd die voedseletikette deeglik na te gaan.

Foto: iStock

“In baie dele van die wêreld is koring ’n topnege-allergeen en moet dit volgens wet gemerk word. Wanneer jy uiteet, vra of koringprodukte in dieselfde braaier as ander kosse gebraai word.”

Sy verduidelik dat glutenvry nie dieselfde is as koringvry nie. “Gluten is een van die proteïene wat in koring, gars en rog voorkom. Koring bevat bykomende proteïene wat allergieë kan veroorsaak. Daarom word individue met ’n koringallergie dikwels aangeraai om alle glutenbevattende korrels te vermy.”

Foto: iStock

Koringmeel kan egter met heelparty alternatiewe in gebak vervang word, voeg Van der Bijl by. “Gluten help om bestanddele te bind en verskaf struktuur in gebak, wat glutenvrye items meer krummelrig maak. Die byvoeging van xantangom by rysgebaseerde glutenvrye meelmengsels kan help.”

Hoewel suiwer hawermout glutenvry is, kan kruisbesmetting egter tydens oes, vervoer, berging en verwerking plaasvind. Daarom stel Van der Bijl voor om eerder glutenvrye hawer en hawerprodukte te verkoop om ’n allergiese reaksie te vermy.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.