On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Health

Kinderkanker ’n ‘nare en wrede pad wat gebede vereis’

───   KAREN VAN DER BERG 06:00 Wed, 27 Nov 2024

Kinderkanker ’n ‘nare en wrede pad wat gebede vereis’ | News Article
Klein Talitha Berg (5) veg teen ’n seldsame kanker en het alle gebede nodig. Foto verskaf

Hulle verhaal is nie uniek nie. Dit gaan ook nie oor hulle of oor hulle kind nie.

“Hierdie verhaal gaan oor elke kindjie wat teen kanker stry,” sê Tanja Berg van Delmas in Mpumalanga. Haar en haar man, Albert, se jongste dogtertjie, Talitha (5), veg al drie jaar dapper teen kanker.

Tanja sê wat gesinne die nodigste het waarin kinders teen kanker veg, is gebede, begrip en hulp. “Want glo my, die ouers, broers en susters veg net so hard. Hulle het elke gebed nodig.”

Talitha was maar twee jaar en vier maande oud toe kanker in Desember 2021 by haar gediagnoseer is. Sy het ’n seldsame, kwaadaardige kiemselgewas gekry.

Hierdie verhaal gaan nie net oor Talitha nie maar oor elke kindjie wat stry teen kanker. Foto verskaf

“Op die dokters se aanbeveling het ons dadelik met chemoterapie begin.” Wat daarna gevolg het, was ’n swaar pad, vertel Tanja.

Klein Talitha het op 14 Junie 2022 haar behandeling voltooi en was skoon van kanker. Maar op 1 September daardie jaar het haar kankertelling weer aansienlik verhoog. Sy is weer geopereer en moes weer deur chemoterapie en bestraling gaan.

Op 24 Februarie verlede jaar het die dapper vegter weer haar behandeling voltooi, maar moes op 11 Desember weer met terapie begin omdat die gewas opnuut gegroei het.

Nie net het dit ‘n finansiële impak nie – psigies raak dit ‘n hele gesin. Foto verskaf

Op die oomblik lyk dit wel nie of enige behandeling werk nie, hoewel hulle al heelwat moontlikhede beproef het.

“Die gewas bly groei en dit het na haar longe versprei. Ons kan nie meer ’n beenmurg laat oes of ’n oorplanting kry nie.”

Tanja sê daar is nie meer veel wat die dokters kan doen nie. Hulle gaan nou weer met die eerste chemoterapie begin en dit dophou. “Anders gee hulle haar drie maande.”

In Januarie 2023 is daar met 28 sessies van bestraling begin. Foto verskaf

Sy beklemtoon die 5%-kans wat hulle gee, is beter as niks. By God is niks onmoontlik nie.

“Die werklikheid van kanker is dit is ’n reuse stryd. Soms werk behandeling en ander kere nie. As gesin loop ons altyd met ’n swaard oor ons kop.”

Talitha is die jongste in die gesin. Haar sibbes is Anina (17), Pedri (16), Zanri (12) en Joach (10).

Die gesin het ’n Facebook-bladsy, waar hulle inligting deel en vir ondersteuning, Talitha Berg Support Group.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.