Health
Kolorektale kanker is onder die top-3-kankers in mans en vroue in SA─── 09:00 Wed, 06 Aug 2025

Kolorektale kanker is in ’n groot mate leefstylverwant, en Suid-Afrikaners moet let op die verskeie risikofaktore. Wees bedag op die tekens en simptome van kolorektale kanker en kry dadelik hulp.
Kolorektale kanker is in ‘n groot mate leefstylverwant, en Suid-Afrikaners moet let op die verskeie risikofaktore.
Wees bedag op die tekens en simptome van kolorektale kanker en kry dadelik hulp.
Vlooi Venter, kliniese verpleegspesialis by KANSA, sluit aan by Yolanda Maartens in OFM Familie Fokus om te gesels oor die voorkoms van kolorektale kanker, asook die behandelingspad.
Kolorektale kanker is een van die stadigste groeiende kankers. Die groot uitdaging lê egter in die opsporing, aangesien die belangrikste simptome nie in die aanvanklike stadiums sigbaar is nie.
Kolorektale kanker kan heeltemal genees word, indien dit vroeg opgespoor word.
Die kolon en rektum is deel van die spysverteringstelsel. Kos word grootliks afgebreek in die maag en dan vrygestel in die dunderm, waar die meeste van die voedingstowwe geabsorbeer word.
Die dunderm gaan voort in die kolon, wat in vier streke verdeel word (volgens hul ligging): stygende kolon, transversale kolon, dalende kolon en sigmoïede kolon. Die funksie van die kolon is om water en minerale voedingstowwe uit die voedselmateriaal te absorbeer en as afval te stoor.
Afval beweeg van die kolon na die laaste 6 duim van die spysverteringstelsel, genoem die rektum en gaan uit die liggaam deur die anus. Meer as 95% van kolorektale kankers ontwikkel in die selle wat die kolon en rektum beklee.
Kanker wat in ’n kliersel begin, word ’n adenokarsinoom genoem. Kanker begin gewoonlik in die binneste laag van die voering en vorder stadig deur die ander lae.
Risikofaktore volgens CANSA:
- Familiegeskiedenis
- Mense met chroniese inflammatoriese dermsiektes
- Mense ouer as 50
- Vetsug
- Fisiek onaktief
- Mense wat minder vesel en meer rooi, verwerkte vleis eet
- Rook
- Oormatige alkoholverbruik
Simptome sigbaar in die gevorderde stadiums van kolorektale kanker:
- Bloeding in die rektum
- Ontlasting met bloed (helderrooi of donker, afhangende van die ligging van die gewas)
- Verandering in dermgewoontes
- Krampe in die kolorektale streek
- Bloedarmoede vanweë bloedverlies
- Swakheid en moegheid
- Verminderde eetlus of gewigsverlies
As jy bo vyftig is, word die volgende siftingstoetse gedoen:
- Sigmoïdoskopie elke 5 jaar
- Kolonoskopie elke 10 jaar
- Dubbelkontras-bariumenema elke 5 jaar
- CT Kolografie (virtuele kolonoskopie) elke 5 jaar
- Digitale rektale ondersoek
- Fekale okkultiese bloedtoets (FOBT) jaarliks
- Fekale immunochemiese toets (FIT) jaarliks
- Ontlasting-DNA-toets (sDNA-toets)
- Mense met ’n familiegeskiedenis van kolonkanker moet op 40-jarige ouderdom met siftingstoetse begin
Behandeling vir hierdie kanker vind in vier stadiums plaas. Vlooi Venter bespreek meer hieroor in ons onderhoud.
Vlooi gesels ook oor die identiteit van KRK SA, die risikofaktore van hierdie kanker, die simptome en die behandeling.
Vir meer inligting, kontak haar gerus, vventer@cansa.org.za of skakel die tolvrye hulplyn by 0800 22 66 22.
Hierdie inligting is slegs bedoel vir algemene inligtingsdoeleindes en vorm nie professionele mediese advies nie. Raadpleeg altyd ’n gekwalifiseerde gesondheidsorgwerker vir enige vrae wat u mag hê rakende ’n mediese toestand of behandeling.
OFM Nuus mvh