Health
Bloemfonteinse liggaamsbouer praat oor geestesgesondheid by mans─── SUSAN MARÉ 13:22 Mon, 11 May 2026
Manlike geestesgesondheid is in Mei in Suid-Afrika en sommige ander lande in die soeklig.
Mans is vier keer meer geneig tot selfdood as vroue, dikwels omdat hulle meer dodelike metodes gebruik en minder waarskuwingstekens toon, sê Francois Griesel (37) van Bloemfontein. Griesel wat self op die rand van selfdood was weens depressie, spits hom nou daarop toe om mansgesondheid te help bevorder.
Hy werk self daagliks hard en gedissiplineerd aan sy geestesgesondheid deur ’n lewe van dissipline en ’n fikse leefstyl na te volg. Sy lewe is ’n getuienis van iemand wat eens ’n swak en verwarde selfbeeld gehad het en nou die lewe voluit in die oë kyk.
Griesel is ’n bemarkingsbestuurder en direkteur van Expand Your Brand, ’n Bloemfonteinse agentskap wat fokus op digitale strategie en kreatiewe ontwerp. Hy het ook vroeër as media- en uitsaaibestuurder gewerk.
Hy sê sowat 80% van alle selfdoodgevalle is waar mense, en veral mans, nie oor hul emosies praat nie. Depressie by mans is dikwels ondergediagnoseer omdat die simptome anders as by vroue kan voorkom.
OFM Nuus het met hom gepraat oor sy passie om by projekte betrokke te wees wat mansgesondheid ondersteun. Hy is ’n gesinsman en met Jolandi getroud.
Sy eie kinderjare het letsels van molestering op hom gelaat wat seker vir altyd deel sal wees van sy lewe, sê hy. Dit inspireer hom nou om uit te reik en ander te ondersteun wat ook sukkel met letsels uit hul kinderjare of verlede.
“Dit is daardie 20 kg-klip in mense se lewe wat hulle self probeer dra. Dit maak nie saak wat daardie gewig veroorsaak het nie, dit is moontlik om dit met hulp en ondersteuning van kundiges en moed net ’n klein klippie in jou lewe te maak.”

Francois Griesel het onlangs tydens Bloemskou as liggaamsbouer presteer. Foto verskaf
Griesel is aktief betrokke as liggaamsbouer. Liggaamsbou in Suid-Afrika onder die sambreel van die World Fitness Federation South Africa (WFF), is ’n nasionale organisasie wat fokus op die bevordering van fiksheid en liggaambou vir mans en vroue.
Dit is ’n florerende sport- en fiksheidskultuur wat fokus op die estetiese ontwikkeling van spiere deur kragoefening en ’n spesifieke dieet. Hierdie spierebultkultuur daag atlete uit om aan kompetisies en vertonings deel te neem waarvan die WFF Bloem Classic ’n voorbeeld is.
Selfvertroue
“Dit behels intense voorbereiding, dikwels jare se geduld, en streng regimes om spiermassa en definisie te bereik. Die hele proses van liggaamsbou help mans om in selfvertroue te groei en is uitstekende terapie om van geestelike letsels wat hulle dra ontslae te raak.
“Depressie is ’n werklikheid by baie mans, maar dit word dikwels nie behandel nie wat ernstige nagevolge kan hê.”

Francois Griesel het ’n algehele gedaanteverwisseling ondergaan. Foto verskaf
Volgens Griesel is depressie by mans dikwels sigbaar as irritasie, aggressie en woede, eerder as hartseer. Hulle toon dikwels ’n gedragsverandering soos om te ontvlug na byvoorbeeld oordrewe sportdeelname of maniere om hul depressie te onderdruk. Depressie kan ook lei tot hoofpyn, spysverteringsprobleme en pyn.
Sy raad hiervoor is dat mans met iemand praat wat hulle kan vertrou, maar ook met ’n dokter of sielkundige as hul gemoedstoestand nie verbeter nie. ’n Gesonde leefstyl soos oefening, liggaamsbou, eetgewoontes en die vermyding van drank en dwelms word aanbeveel.
Dit is veral belangrik dat mans wat erg depressief voel by ’n ondersteuningsgroep aansluit en vir professionele terapetiese behandeling by ’n sielkundige aanklop.
“Onbehandelde depressie kan lei tot ernstige gesondheids-, loopbaan- en verhoudingsprobleme in die gesin of by die werkplek.”
Hollard Daredevil Run
Hy is ook betrokke by bewusmakingsveldtogte soos die Hollard Daredevil Run wat jaarliks in Bloemfontein gehou word. Hierdie veldtog fokus op prostaatkanker en die algemene gesondheid van mans.
Die Hollard Daredevil Run is ’n geleentheid waar mans in pers swembroeke hardloop om bewusmaking oor prostaatkanker en mansgesondheid te bevorder. Dit moedig gereelde toetsing vir prostaatkanker aan en skep ’n groepsgevoel oor die belangrikheid van geestes- en fisiese gesondheid.
Griesel vertel hy is op skool gespot en emosioneel mishandel, en het lank aan ’n lae selfbeeld gely. Hy was skraal en tingerig en het eers jare later die moed bymekaar gemaak om op te staan en hulp te soek.
“Vir elkeen wat die moed het om die letsels van sy verlede aan te pak, op te staan en dit met die hulp van kundiges aan te pak, is daar hoop. Jy hoef nie lewenslank te wroeg of onder ’n swak selfbeeld en depressie te ly nie.
“Ek kan dankbaar sê dat ek bevryding gevind het, en dat ek vandag die lewe saam met my gesin kan koester en geniet. Ek voel geroepe om ook ander te help wat in my posisie was.”
Hy het onlangs presteer toe die WFF Bloem Classic vir liggaamsbouers by Bloemskou aangebied is. Hy het ’n eerste plek in die afdeling transformasie en ’n derde plek in die Jeans Model behaal.
Nog ’n voorbeeld van projekte vir mans is die jaarlikse Movember-projek waar mans ’n snor kweek en sodoende geestesgesondheid onder mans aanmoedig.
OFM Nuus/Susan Maré sm dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

