Health
Nuts about Nuts: Wat is goed én sleg van neute?─── 12:00 Wed, 08 Jul 2026
Neute mag dalk die sosiale media soos ‘n storm tref, maar wat is die ware feite oor dié sogenaamde “superkos”?
Pulane Nel-Sekepe gesels met Will van der Merwe, ’n kliniese dieetkundige van Bloemfontein, oor alles wat ons oor neute moet weet.
Om via sosiale media uit te vind dat ‘n spesifieke kossoort goed is vir jou, kan ’n negatiewe uitwerking op jou lyf hê, veral as jy jouself dalk ooreet aan daardie kossoort. Dit is presies wat onlangs met Brasiliaanse neute gebeur het. Mense het heeltemal te veel daarvan begin eet as gevolg van 'n neiging op sosiale media.
Video's wat die nadele van oormatige eet van dié neute verkondig, was kort voor lank ook op die sosiale media. Dié plasings het mense gewaarsku teen seleniumvergiftiging wat jy kan ontwikkel weens ‘n oormaat Brasiliaanse neute.
Van der Merwe is reeds 15 jaar by Universitas-hospitaal werksaam, en het ’n passie vir voeding en die rol daarvan in die behandeling van siektes. Hy dien ook as konsultant en plaasvervangende dieetkundige by Medi-clinic.
Hy is betrokke by die opleiding van studente in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat (UV) en geniet dit om toekomstige gesondheidswerkers te inspireer en te wys hoe hulle ’n verskil in mense se lewens kan maak.

