On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Human Interest

NWU ontwikkel nou medisyne met skop!

───   11:43 Thu, 21 Jan 2016

NWU ontwikkel nou medisyne met skop! | News Article

Potchefstroom - Nuwe farmaseutiese tegnologie, wat sal beteken dat pasiënte nie net vinniger gesond word nie, maar dat die ontwikkeling van nuwe medikasie met etlike jare versnel kan word, is pas by die Noordwes-Universiteit bekendgestel.


Dié tegnologiese deurbraak is boonop ’n eerste vir die Afrika-kontinent met die NWU wat een van enkele universiteite wêreldwyd is wat hieroor beskik.

’n Multi-miljoenrandse masjien wat harde gelatienkapsules nou met vloeistof of jel kan vul en dan verseël, is pas deur prof. Anne Grobler, direkteur van die NWU se Sentrum vir Prekliniese Geneesmiddelontwikkeling, ontvang. “Ons het reeds vier jaar gelede met Capsugel,  ‘n Amerikaanse maatskappy wat ‘n leier op doseervorm-oplossings is, begin gesels oor die moontlikheid om hul CFS1200 masjien aan te pas sodat ons plaaslike geneesmiddelformulasies deur dié instrument geakkommodeer kan word. Ons kon tot ’n vergelyk kom en is trots om te sê dat ons hierdeur selfs internasionale belangstelling vir die vervaardiging van geneesmiddels gelok het.”

Grobler sê ’n vloeibare toedieningsmiddel word meestal vinniger deur die menslike liggaam opgeneem, verhoog die geneesmiddel se effektiwiteit en versnel dus die pasiënt se genesingsperiode, en met die ontwikkeling is ’n kapsulevorm ook nou moontlik. “Die instrument neem ons tot hoogtes wat nooit vantevore moontlik was nie,” sê Grobler. Die werklike deurbraak is dat 'n mens terapeutiese molekules wat voorheen nie effektief in ’n mondelinge doseervorm toegedien kon word nie, nou per kapsule kan toedien.

Dr Philippe Peter, ’n chemiese ingenieur, PhD in Polimeriese wetenskap en projekhoof van Capsugel, wat die installasie, opleiding en kalibrering van die instrument in Potchefstroom waarneem, sê die vervaardigingsproses van nuwe geneesmiddels word hierdeur ook aansienlik verkort. “Met tradisionele werkswyses neem dit ongeveer twintig jaar om ’n nuwe geneesmiddel van die identifisering van kandidaat- medisinale molekule tot op die rakke te kry. Dit is as gevolg van die feit dat verskeie navorsingsfases betrokke is, waaronder die identifisering van die betrokke siektetoestand se karaktereienskappe, die in vitro-toetsfase, prekliniese fase waar toetse op proefdiere gedoen word, toetse op mense, die registrasie en uiteraard die massavervaardiging van die geneesmiddel. “Dié instrument vervang die menslike faktor tot so ’n mate dat nuwe geneesmiddels nou in ’n aansienlike korter tyd ontwikkel kan word,” sê Peter.

Die Noordwes-Universiteit het reeds vroeër op internasionale vlak sy stempel afgedruk met die ontwikkeling en patentering van ’n unieke vloeibare afleweringsmetode van medikasie, naamlik die Pheroid-metode. In dié vloeibare medikasievorm het wetenskaplikes aan die NWU tot dusver formulasies vir agt klasse medikasie ontwikkel, maar moes vroeër kapsules met die hand vul. “Die menslike faktor bring mee dat foute gemaak kan word, kontaminasie kan plaasvind en ’n stadige vervaardigingsproses veroorsaak. Hierdie apparaat is beslis een van ons vlagskipinstrumente wat baie mense se lewenskwaliteit kan verhoog. Ons sien uit om jare se harde werk met die ontwikkeling van vloeistofdoseervorm nou tot nóg hoër hoogtes te neem,” sê Grobler.

Verklaring verskaf

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.