Inspiration
The Big Cover Up bedek Sentraal-SA in hoop─── 16:34 Thu, 07 Aug 2025

OFM en Round Table Southern Africa het hierdie winter vir talle van Sentraal-Suid-Afrika se kwesbaarste inwoners warmte gebring met sowat R300 000 wat tydens die radiostasie se fondsinsameling geïn is.
Die veldtog het ten doel gehad om R150 000 in kontantskenkings in te samel om liefdadigheidsorganisasies by te staan in hul pogings om komberse en kos aan ouer mense en kinders te voorsien. Luisteraars en besighede is aangemoedig om op Woensdag 4 Junie 2025, van 06:00 tot 18:00, in te skakel en enige bedrag vanaf R100 te skenk. Die dag het alle verwagtinge oortref – R295 000 is ingesamel.
Altesaam 26 liefdadigheidsorganisasies in die Vrystaat, Noordwes, Noord-Kaap en Vaal is ondersteun, met Tafelrondes wat plaaslike behoeftes aangespreek het deur items soos komberse, kos, skoonmaakmiddels en selfs hospitaalbeddens aan te koop.
“Die betrokkenheid van OFM by hierdie projek was werklik fantasties en het groot, betekenisvolle verandering meegebring in ons gemeenskap. Wat hierdie projek besonders maak, is dat dit regtig op die nood gefokus het – nie net op wenslysies nie, maar op wat mense werklik kortkom,” sê Shaun van der Merwe van Carletonville 50.
LEES OOK: The BIG Cover Up secures R295 000 in funds for winter aid
In Potchefstroom is ses hospitaalbeddens aan ’n bejaardesorgsentrum oorhandig, terwyl 129 komberse aan die plaaslike kinderhuis geskenk is. In Bloemfontein het onder meer die Vrystaat Nasorgsentrum en Huis Therapia baat gevind by kos, klere en komberse. Klerksdorp se tafel het beide ’n plakkerskamp en ’n diereskuiling bedien, met skenkings wat gewissel het van troeteldierkos tot lekkers vir kinders.
“Ons betrokkenheid het nie net basiese behoeftes aangespreek nie, maar ook hoop en ondersteuning gebring aan mense en diere in nood. Ons beveel aan dat soortgelyke projekte voortgesit en uitgebrei word om nog groter impak in die gemeenskap te maak,” vertel Henro Louw van Matlosane 45.
In die Noord-Kaap het Prieska, Upington, Hartswater en Augrabies verskeie ouetehuise en kleuterskole gehelp met alles van eetgerei en baba-items tot kos en verwarmers.
“Hierdie plekke is ongelooflik dankbaar vir die skenkings. Dit maak ’n groot verskil aan hul dag tot dag-lewe en beplanning vorentoe. Dit is lekker om só ’n inisiatief saam met OFM aan te pak,” meen JC Gresse van Upington 79.
Baie dankie aan elke luisteraar, besigheid en gemeenskapslid wat OFM se Big Cover Up-projek ondersteun het. Julle bydraes – groot of klein – het saam ’n merkwaardige verskil gemaak in die lewens van talle mense regoor ons uitsaaigebied.