On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Local News

Kroonstad-arts vertel van plaasaanval

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:15 Tue, 12 Jul 2016

Kroonstad-arts vertel van plaasaanval | News Article

Kroonstad - Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met die aanval op ‘n dokter en sy vrou in hul plaashuis by Kroonstad nie.


Die polisie in die Vrystaat soek na twee mans wat Jacobus Troskie die naweek met ‘n yster oor die kop geslaan het en sy vrou, Natalie, met ‘n hoekslyper aan die nek gewond het. 

Troskie het gister aan OFM-nuus gesê hy is Sondag omstreeks 17:00 uitgeroep na sy spreekkamer en die plaaslike hospitaal op die dorp. Toe hy twee ure later tuiskom, het hy iets geruik wat brand. Hy is na die kombuis omdat hy gedink het sy kinders, wat vroeër die dag daar gekuier het, het die stoof aan vergeet. 

Alles was pluis in die kombuis, waarna hy na hul slaapkamer is waar sy bedlêende vrou was. Hy is toe met ‘n kort dik yster agter die kop geslaan. Die booswigte het sy hande en voete vasgebind en geld geëis.

Hy het gesê hy gaan nie geld aan hulle gee voordat hy sy vrou sien en seker maak sy is reg nie. Die aanvallers het ‘n geweer teen sy kop gerig. Hulle het aangedring op geld en gedreig om hom te skiet. “Toe sê ek hulle kan maar skiet.” Troskie wou eers vasstel of sy vrou veilig is. Sy aanvallers het hom daarna geskop en met ‘n geweer in die maag geslaan.

Die rowers, wat Afrikaans gepraat het, het Troskie na die slaapkamer gesleep. Toe hy sien sy vrou is veilig, het hy R1 500, wat in sy sak was, vir hulle aangebied. Die rowers het dié geld, sy horlosie en die egpaar se selfone gebuit. Hulle het in Troskie se bakkie gevlug, maar het dit by sy plaas se ingang gelos.

Hy vermoed die bakkie se enjin het gevrek waarna hulle gesukkel het om die bakkie weer aan te skakel. Hy het homself bevry deur sy hande los te wikkel met sy tande en het daarna na ‘n openbare pad geloop. ‘n Motor het gestop. Hulle het die polisie ontbied. Hy kon nie hulp ontbied nie, omdat die booswigte die huisfoon se lyn geknip het.

Hy sê ‘n vriendin van hulle, wat ook ‘n verpleegster is, het hul wonde, wat nie té ernstig was nie, op die plaas behandel. 

Die vuurwapens wat in die kluis was, is nie gevat nie. Daar was geen geld in die kluis nie. Hy sê die booswigte het heel waarskynlik nie geweet hoe om met vuurwapens te werk nie want hulle het die slot van sy .243 oopgetrek, maar kon nie patrone in die loop sit nie. Sy haelgeweer se kolf is stukkend geslaan en in die bad, waarin daar water was, gegooi.  

Een van sy honde wat die huisdeur by die motorhuis gereeld oppas, is deur die booswigte vergiftig. Hulle moes kort nadat hy gery het, in die huis ingegaan het. Toe hulle by sy vrou in hul slaapkamer kom, het hulle die kluis se sleutels gesoek. Sy het toe aan hulle gesê sy het nie die sleutels nie, maar daar is ‘n hoekslyper wat hulle kan gebruik om die kluis mee oop te sny.

'n Saak van huisroof word ondersoek.  


OFM-nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.