Local News
R25 000 vir inligting oor Hennenman-moord─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:09 Sun, 16 Apr 2017

Hennenman - Die polisie op Hennenman in die Vrystaat het 'n beloning van R25 000 uitgeloof vir inligting rakende die moord op 'n jong vrou verlede jaar in April.
Die 20-jarige Refilwe Sana Rampai se ma het op 4 April op haar dogter se lyk op die grond in haar slaapkamer in Phomolong afgekom.
Polisiewoordvoerder, Malebo Khosana, sê Rampai se ma van Gauteng het onrustig geraak toe sy nie haar dogter op haar selfoon in die hande kon kry nie.
Sy het na Hennenman gekom om haar dogter op te spoor.
Khosana sê Rampai is met 'n skerp voorwerp in die maag gesteek.
Rampai is laas lewend gesien by 'n kerkbyeenkoms, 'n dag voordat haar lyk gevind is.
Khosana sê die polisie se ondersoek na die voorval het nog geen sukses opgelewer nie en daarom is die beloning vir inligting uitgeloof.
Hy sê mense kan die ondersoekbeampte Tefo Tshabalala op (057) 573-9104 of 071-072-4268 en 078-100-6091 bel.
OFM-nuus