Local News
Noordwes-Universiteit (NWU) gee erkenning aan uitmuntende dosente─── 10:13 Sat, 22 Apr 2017

Potchefstroom - Goeie werk gaan nooit ongesiens verby nie.
Dit is beklemtoon tydens die seremonie van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Institusionele Toekennings vir Onderrig-uitnemendheid (ITOU) wat op 20 April in Potchefstroom plaasgevind het.
Die jaarlikse gebeurtenis gee erkenning aan die beste dosente van die NWU. Hierdie jaar het die hoogste toekenning aan ’n dosent van die Potchefstroomkampus gegaan. Prof. Alfred Henrico van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe was die wenner in die Toekenning vir Uitsonderlike Onderrig-uitnemendheid- (TUOU-) kategorie.
“Ek voel geëerd en dankbaar teenoor die NWU vir die toekenning. Die NWU se ITOU-stelsel is uitstekend. Dit is nie alleen gerig op die beloning van uitnemende onderrig nie, maar ook op die ontwikkeling van dosente se onderrigvaardighede.” Alfred sê hy is ook dankbaar teenoor elke kollega en student by wie hy kon leer en wat hom in staat gestel het om in sy onderrigtaak te ontwikkel.” Hy sê sonder hulle was hierdie toekenning nie moontlik nie. Hy beskou die toekenning as beloning vir sy harde werk, sy fokus om 'n positiewe verskil in studente se lewens te maak en by te dra tot hulle ontwikkeling as die toekoms in Suid-Afrika.
Toekennings is in drie kategorieë gemaak, naamlik die Toekenning vir Opkomende Onderriguitnemendheid (TOOU), die Toekenning vir Onderriguitnemendheid (TOU) en die Toekenning vir Uitsonderlike Onderrig-uitnemendheid (TUOU).
Agt-en-veertig akademici het toekennings ontvang. Die fakulteit aan die NWU wat die meeste wenners opgelewer het, is die Fakulteit Geesteswetenskappe op die Vaaldriehoekkampus met agt wenners, gevolg deur die Potchefstroomkampus se Fakulteit Lettere en Wysbegeerte en Fakulteit Gesondheidswetenskappe wat gesamentlik in die tweede plek was met ses wenners elk. Die Fakulteit Teologie, ook aan die Potchefstroomkampus, was in die derde plek met vyf toekennings.
Die toekennings word gemaak om waardering te betuig teenoor dosente vir hulle verbintenis en toewyding tot studentesukses, en om akademici aan te moedig om op die gebied van onderrig en leer te ontwikkel.
Dit is die derde jaar dat die toekennings in hierdie kategorieë gemaak word. Die TOOU-toekennings beloon opkomende dosente vir uitnemende onderrig. Dit gee erkenning aan dosente wat ’n langtermynvisie vir hulle professionele en loopbaanontwikkeling toon deur hulle buitengewone en bewese prestasie tot innovering in onderrig en leer in hulle vakgebied.
Die TOU word toegeken aan dosente wat buitengewone en bewese prestasies in onderriguitnemendheid getoon het. Hulle gebruik innoverende benaderings om ’n leerproses te fasiliteer wat studente inspireer en uitdaag.
Die TUOU loof voortreflike vakkundiges vir leierskap en prestasie in die vakkundigheid van onderrig en leer. Uitnemendheid word onderskryf deur die TUOU as ’n besondere eerbewys binne die kategorie van die TOU toe te ken.
Om in aanmerking te kom vir die toekennings moet deelnemers aan ten minste 80% van die kriteria in die individuele kategorieë voldoen. Hulle moet ’n weldeurdagte portefeulje as bewys van hulle onderrig- en leer-aktiwiteite voorlê. Ten minste twee leergeleenthede word waargeneem, waarvan een onaangekondig is.
Daar word ook van deelnemers aan die TOU-toekennings verwag om aanbiedings by ’n jaarlikse kampus- of fakulteit-colloquium oor onderrig en leer te lewer.
Hulle portefeuljes word nagesien deur spanne of panele wat bestaan uit verteenwoordigers van Institusionele Akademiese Ontwikkelingsondersteuning (AOO) en AOO-adviseurs van die drie NWU-kampusse.
Die portefeuljes van die TUOU-wenners word intern en ekstern nagesien.
Prof Dan Kgwadi, visekanselier, sê die NWU is baie trots op die gehalte van sy akademici. “As gevolg van julle kan ons studente verseker dat hulle dosente van hoogstaande gehalte het.”
Die gasspreker by die geleentheid, dr Diane Parker, adjunkdirekteurgeneraal vir universiteitsonderrig van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, het die NWU se akademici geloof vir die uitstekende werk wat hulle doen om leer te bevorder. “U toewyding aan uitnemendheid en innovering en die passie wat u in onderrig en leer toon, sal beslis tot die sukses van u studente bydra, en dit dien as inspirasie vir ons almal,” het sy gesê.
En die wenners is…
Toekenning vir Uitsonderlike Onderrig-uitnemendheid
Prof Alfred Henrico, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Toekennings vir Onderrig-uitnemendheid
Dr Michelle Barnard, Regte
Dr Alwiena Blignaut, Gesondheidswetenskappe
Me Pia Bombardella, Lettere en Wysbegeerte
Prof Marianne Dircksen, Teologie
Dr Tiny du Toit, Natuurwetenskappe
Prof Jaco Fouché, Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie
Mr Nico Fourie, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Prof Alfred Henrico, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Prof Pierre Jordaan, Teologie
Dr Johanita Kirsten, Geesteswetenskappe
Dr Elbé Kloppers, Lettere en Wysbegeerte
Dr Herculene Kotzé, Lettere en Wysbegeerte
Dr Ruan Kruger, Gesondheidswetenskappe
Dr At Lamprecht, Teologie
Prof Marco Le Roux, Ingenieurswese
Dr Hein Lubbe, Regte
Dr Gisele Mah, Handel en Administrasie
Dr Munyaradzi Manjoro, Landbou, Wetenskap en Tegnologie
Dr Leon Moolman, Geesteswetenskappe
Me Kedumetse Motlhankane, Lettere en Wysbegeerte
Prof Wedzerai Musvoto, Handel en Administrasie
Dr Ilyayambwa Mwanawina, Geesteswetenskappe
Prof Mulunda Mwanza, Landbou, Wetenskap en Tegnologie
Me Adéle Naudé, Gesondheidswetenskappe
Me Lemar Olivier, Handel en Administrasie
Me Charté Pretorius, Lettere en Wysbegeerte
Prof Riaan Rheeder, Teologie
Me Tasleem Sayed, Gesondheidswetenskappe
Me Jeanette Sebaeng, Landbou, Wetenskap en Tegnologie
Me Karlien Smit, Gesondheidswetenskappe
Dr Sufran Smith, Gesondheidswetenskappe
Me Rolé van der Merwe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Mnr Christo van der Merwe, Ingenieurswese
Dr Karen van der Merwe, Geesteswetenskappe
Prof Hans van Deventer, Geesteswetenskappe
Dr Louis van Staden, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Toekenning vir Opkomende Onderriguitnemendheid
Me Rochelle Botha, Geesteswetenskappe
Dr Steven Dunga, Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie
Dr Fazel Freeks, Teologie
Dr André Grobler, Ingenieurswese
Dr Phemelo Marumo, Geestes- en Sosiale Wetenskappe
Dr Nyambeni Matamela, Geestes- en Sosiale Wetenskappe
Me Chilombo Mbenga, Geestes- en Sosiale Wetenskappe
Me Anneke Moolman, Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie
Mnr Kolentino Mpeta, Handel en Administrasie
Dr Velaphi Nhlapo, Geesteswetenskappe
Me Antoinette Olivier, Lettere en Wysbegeerte
Dr Ella Wehrmeyer, Geesteswetenskappe
Verklaring verskaf