Agriculture
Landbounuus-podcast: Agri SA steeds gekant teen onteiening van grond sonder vergoeding─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:48 Thu, 01 Aug 2019
Die grondkreet gaan nie oor grond nie, maar die onteiening en 'n proses van vervreemding.
Dit is volgens Agri Oos-Kaap se president, Dough Stern, wat Woensdag op dié organisasie se jaarkongres gesê het in die lig daarvan is hulle steeds gekant teen onteiening van grond sonder vergoeding. Hy het gesê as die Grondwetwysiging plaasvind met betrekking tot onteiening sonder vergoeding, gaan ekonomiese groei belemmer word, wat groter armoede tot gevolg gaan hê. Xolile Ngqameni, voorsitter van die nuutgevormde Oos-Kaapse georganiseerde landbouleierskap-vereniging, Ecoal, het op die kongres gesê die vereniging is tot ekonomiese vooruitgang verbind want plaaslike boere is die argitekte van hul eie lot. Dié vereniging bestaan uit lede van Agri Oos-Kaap en verskeie swart boereverenigings wat hulle daarop toespits om die bedryf op provinsiale vlak te ontwikkel.
Die instel van grondplafonne, as 'n instrument om herverdeling van grond te bewerkstellig deur die hoeveelheid grond te beperk wat besit mag word, is problamaties in terme van die ekonomie van skaal. Dit is volgens 'n politieke ontleder, André Duvenhage, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, nadat die presidensiële adviespaneel in sy verslag oor grondhervorming en landbou, grondplafonne voorgestel het. Duvenhage sê dit is slegte nuus vir alle boere. Hy sê die instel van grondplafonne gaan die waarde van grond verlaag, banke gaan nie sekuriteit hê nie, en finansiële instellings gaan aan die kortste ent trek. Met Suid-Afrika se uitgebreide vorme van korrupsie kan dit katastrofiese gevolge inhou.
Beleggersvertroue in landbou is van kritiese belang om volhoubare werkskepping aan die gang te kry. So meen Jahni de Villiers, Agri SA se hoof van arbeid en ontwikkeling nadat Statistieke Suid-Afrika (StatsSA)se jongste navorsing toon dat die land se werkloosheidsyfer op 29% die hoogste sedert 2008 is. Daarmee saam het werkskepping in die landboubedryf met 5000 poste toegeneem. De Villiers sê landbou se arbeidsvlakke het relatief stabiel teenoor ander bedrywe gebly met 'n duisend poste wat sedert die eerste kwartaal van die jaar in die slag gebly het. Dit toon duidelik dat landbou die lig aan die einde van Suid-Afrika se tonnel van werkloosheid kan wees as daar meer beleidsekerheid en ekonomiese groei is.
EN
Neigings met betrekking tot plantteling in die saadmark oor die wêreld heen het vanjaar op die varsproduktebemarkingsvereniging, PMA, se Fresh Connections-konferensie en -handelskou vir Suider-Afrika onder die loep gekom. Farmer's Weekly se redakteur, Denine Erasmus, het dié geleentheid bygewoon wat op innovasie gefokus het. Sy berig vir OFM-nuus dat Yuval Cohen, bemarkingsbestuurder van BreedX in Israel, meen die waarde van die internasionale saadmark is sowat 40 miljard Amerikaanse dollar, en dit gaan na verwagting in 2025 na 60 miljard Amerikaanse dollar toeneem. Daar is nou 'n eweredige verdeling in die mark tussen konvensionele saad en genetiese gemodifiseerde (GM) saad. Dit was Denine Erasmus, die redakteur van Farmer's Weekly.
OFM-nuus
