Agriculture
Stygende insetkoste knel boere─── 16:03 Thu, 26 Nov 2026
TLU SA vra die regering moet die ekonomiese omstandighede verbeter waarin Suid-Afrikaanse boere moet produseer sodat hulle winsgewend kan bly, in voedselproduksie kan belê en werkgeleenthede kan skep.
Die jongste produsenteprysindeks wat Statistieke Suid-Afrika op 26 November bekend gemaak het, toon landbouprodusentepryse het in Oktober op ’n jaargrondslag met slegs 0,3% gestyg. Daarteenoor het die jaarlikse produsenteprysinflasie vir finale vervaardigde goedere tot 8,1% gestyg, teenoor 6,2% in September.
Bennie van Zyl, TLU SA-hoofbestuurder, sê hoewel die produsenteprysindeks ’n belangrike ekonomiese aanwyser is, moet die syfers in die regte konteks vertolk word. Veranderinge in die pryse wat boere vir hul produkte ontvang, moet teen hul werklike produksiekoste opgeweeg word.
‘Wat het dit gekos om produk te produseer?’
“Dit gaan nie net oor hoeveel pryse gestyg het nie, maar wat die uiteindelike implikasie daarvan vir die boer is. Wat het dit die boer gekos om daardie produk te produseer?”
Die produsenteprysindeks vir diesel het op ’n jaargrondslag met 68,5% gestyg, dié vir basiese en ander chemikalieë met 19,7%, water met 8,3% en elektrisiteit met 5,9%. Produsentepryse vir lewende diere het daarenteen met 6,4% en dié vir vrugte en groente met 2% gedaal.
Hoewel produsentepryse vir graan en ander gewasse met 10,5% gestyg het, wys TLU SA daarop dat dieselpryse juis rondom stroop- en planttyd hoogtepunte bereik het. Graanprodusente benodig tydens dié twee tydperke van die produksieseisoen besonder groot hoeveelhede brandstof.
Boer het min beheer oor prys
Mieliepryse het eers teen einde Augustus en gedurende September beduidend herstel. Volgens TLU SA kon produsente wat reeds hul graan teen laer pryse moes verkoop om hul skuldverpligtinge na te kom, nie by die daaropvolgende prysstygings baat vind nie.
“Die boer het dikwels min beheer oor die prys wat hy vir sy produk ontvang, maar moet steeds die koste verbonde aan produksie dra. Wanneer insetkoste vinniger as produsentepryse styg, kom die boer se winsmarge onder druk,” sê Van Zyl.
TLU SA waarsku verbruikers daarteen om die prys van voedsel op winkelrakke as ’n direkte aanduiding van boere se inkomste of winsgewendheid te beskou. Die koste van onder meer verwerking, verpakking, vervoer en verspreiding dra tot die uiteindelike verbruikersprys by.
Die landbouorganisasie meen die regering kan help om produksiekoste en risiko’s te beperk deur bekostigbare en betroubare water- en elektrisiteitsvoorsiening te verseker. Behoorlike infrastruktuur, beter landelike veiligheid en beleidsekerheid is volgens die organisasie eweneens noodsaaklik vir die landbousektor se ekonomiese volhoubaarheid.
“Die ekonomiese volhoubaarheid van landbou moet aan winsgewendheid gemeet word, nie bloot aan prysstygings nie. Suid-Afrika kan nie van sy boere verwag om voedselsekerheid te verseker en werksgeleenthede te skep indien die ekonomiese omgewing waarin hulle moet produseer dit toenemend bemoeilik nie. “Winsgewende landbou is ’n voorvereiste vir volhoubare voedselsekerheid,” sê Van Zyl.
OFM Agri cvdw
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

