On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Sojaboonboere in Vrystaat kan duisende verloor

───   10:07 Fri, 27 Nov 2026

Sojaboonboere in Vrystaat kan duisende verloor | News Article
Hulle gebruik die voorbeeld van ’n boer wat sojabone op 20 ha verbou en ’n oes van 40 t lewer. Foto: Pexels

Graan SA en Phahama Grain Phakama (PGP) waarsku die gebruik van ’n enkele verwysingspunt vir die verhandeling van sojabone kan kleinboere se winsgewendheid kniehalter en hul vermoë beperk om in die volgende produksieseisoen te plant.

Volgens die twee organisasies kan ’n kleinboer naby Villiers in die Vrystaat R338 minder per ton vir sy sojabone ontvang as ’n koper die volle aanduidende liggingsdifferensiaal van sy oesprys aftrek. Dit kan ’n aansienlike uitwerking hê op die geld wat ná produksiekoste oorbly.

Die JSE se veelvuldigeverwysingspuntmodel neem verskeie vraagsentrums in ag, terwyl die enkelverwysingspuntstelsel een ligging gebruik, naamlik Driefontein in Gauteng. Graan SA en PGP is bekommerd dat kopers die liggingsdifferensiale kan gebruik om boere minder vir hul produkte te betaal, selfs waar sojabone naby verwerk word.

“Die vergelyking wat in hierdie voorbeeld gebruik word, toon ’n differensiaal van R0/t vir Villiers onder MRP, teenoor ’n aanduidende R338/t onder die enkelverwysingspuntstelsel. As ’n koper die volle verskil aftrek, ontvang die boer R338 minder vir elke ton wat verkoop word.”

Duisende rande minder ná produksiekoste

Hulle gebruik die voorbeeld van ’n boer wat sojabone op 20 ha verbou en ’n oes van 40 t lewer. Volgens die gepubliseerde droëlandbegroting vir die Oos-Vrystaat beloop sy direkte produksiekoste, waaronder saad, kunsmis en diesel, R175 380.

Indien vaste koste 20% van die totale produksiekoste uitmaak, beloop dié boer se totale uitgawes R219 225. Onder die veelvuldigeverwysingspuntmodel sal hy in hierdie voorbeeld R58 735 oorhê voordat belasting en huishoudelike uitgawes in berekening gebring word, teenoor R45 215 onder die enkelverwysingspuntstelsel.

“In hierdie voorbeeld ontvang die boer R13 520 minder vir presies dieselfde oes. Ná koste daal die geld wat oorbly van R58 735 tot R45 215. Dit is sowat 23% minder om die huishouding te onderhou, onverwagte uitgawes te dek en tot die volgende seisoen by te dra.”

Droogte kan verliese vererger

Graan SA en PGP wys daarop dat ’n afname van 20% in die boer se opbrengs weens droë weer die finansiële gevolge van die liggingsaftrekking verder kan vererger. Indien produksiekoste en pryse onveranderd bly, kan die boer onder die enkelverwysingspuntstelsel ’n verlies van R7 673 ly.

“Die aftrekking kan dus ’n moeilike seisoen in ’n verliesgewende seisoen verander. Hierdie voorbeeld veronderstel geen versekeringsuitbetaling nie en hou koste onveranderd, aangesien baie uitgawes reeds aangegaan is.”

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se waarskuwing oor die groter waarskynlikheid van warmer en droër toestande weens El Niño gedurende die huidige somerseisoen versterk die organisasies se kommer oor graanboere se finansiële volhoubaarheid en hul vermoë om in toekomstige produksie te belê.

Die hof het Graan SA se dringende interdikaansoek op 6 November weens ’n gebrek aan dringendheid van die rol geskrap. Die onderliggende prysgeskil is egter nog nie besleg nie en die organisasies bly bekommerd oor moontlike verliese terwyl die hersieningsproses aan die gang is.

OFM/Agri dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.