On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Beheer van bek-en-klouseer belangrik

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 18:09 Mon, 11 Nov 2019

Landbounuus-podcast: Beheer van bek-en-klouseer belangrik | News Article

Dit is nou belangrik om seker te maak dat die bek-en-klouseer virussiekte wat op 'n kommersiële plaas by Molemole in Limpopo by 'n beeskudde bevestig is, nie verder versprei nie.


Dit is volgens dr. Pieter Vervoort, besturende direkteur van die Nasionale Dieregesondheidsforum, nadat die Departement van Landbou verlede week bevestig het dat 'n voorval van dié siekte op 'n plaas in die bek-en-klouseervrye sone, noord van Polokwane, aangemeld is. Vervoort sê alle betrokkenes in die rooivleisbedryf en die regering is reeds aan boord. Hy sê dié plaas is onder kwarantyn geplaas en amptenare was Saterdag op die plaas. Hy sê daar word nou bepaal wat die oorsprong van dié siekte is, maar die verspreiding daarvan moet sover moontlik verhoed word. Vervoort sê die jongste uitbreking in Limpopo is nie goeie nuus vir Suid-Afrika nie, veral nadat die land se internasionale bek-en-klouseervrye status opgeskort is ná 'n uitbreking van dié siekte in die Vhembe-distrik in Limpopo in Januarie vanjaar.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het onderneem dat dié bedryf R1,5 miljard gaan belê om dié bedryf met 10% te laat groei. Dít gaan sowat 7 000 werksgeleenthede skep, indien die uitvoer van Suid-Afrikaanse hoender 'n hupstoot kry. Dié onderneming is gemaak as deel van die bekendstelling van 'n meesterplan vir die pluimveebedryf, wat deur die Minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel, op pres. Cyril Ramaphosa se onlangse beleggingskonferensie in Gauteng aangekondig is. Dié pluimveevereniging se hoofbestuurder, Izaak Breitenbach, sê 'n omvattende ooreenkoms is met dié meesterplan bereik ter bevordering van dié bedryf. Dit sluit verhoogde plaaslike produksie en verbruik van hoenderprodukte in. Daar word ook gefokus op die uitvoer van produkte na Afrika-lande, die Midde Ooste en die Europese Unie (EU). Breitenbach sê alle betrokkenes, wat invoerders insluit, het ook in dié meesterplan ooreengekom dat alle vorme van storting verhoed moet word.

EN

Agri Noord-Kaap moedig gemeenskappe wat gholf speel aan om betrokke te raak by die 'Gholfers are Givers'-projek ten bate van dié organisasie se droogtehulpfonds. Nicol Jansen, Agri Noord-Kaap se president, sê Gholf SA wil boere in die droogtegeteisterde Noord-Kaap ondersteun deur later vandeesmaand geld op 'n nasionale gholfdag in te samel by al Gholf SA se klubs oor die land heen. Hy sê meer geld word benodig vir veevoeraankope en die vervoer daarvan na boere. Om geldelike skenkings te maak gaan na OFM se webtuiste en kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry tot 'n lys van organisasies wat hulpverlening verskaf.



OFM-nuus



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.