On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Boere gemaan om paraat te wees

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:16 Tue, 26 Nov 2019

Landbounuus-podcast: Boere gemaan om paraat te wees | News Article
File image: Stock theft

Boere wat produkte direk aan die publiek op hul plase verkoop moet nou met die Kersseisoen, wat om die draai is, ekstra paraat wees.


Polisiewoordvoerder in Noordwes, Adele Myburgh, sê meer mense gaan nou by rooivleis- en pluimveeprodusente kom aanklop om produkte te koop. Geld moet ook nie op plase gehou word nie, maar liewer daagliks gebank word. Dit kom nadat die 67-jarige Schalk van der Merwe op sy plaas Leeufontein naby Wolmaransstad in Noordwes, vermoor is toe drie mans en twee vroue Sondagmiddag glo skape wou aankoop. Van der Merwe se 66-jarige vrou, Lettie, is met 'n vuurwapen aangehou en aangerand. Myburgh sê die egpaar is saam met die groep na die skaapkraal. Hulle wou ses skape aankoop, en vier van die skape was reeds gevang en vasgebied toe die egpaar vermoedelik oorrompel is. Die twee vroue het Lettie na die plaashuis gedwing en met 'n vuurwapen aangehou en aangerand. Schalk is in die skaapkraal met 'n skerp voorwerp vermoor. Hy is deur die booswigte vasgebind. Myburgh sê die egpaar se seun, wat op die plaas was, het die aanvallers gewaar toe hulle op die vlug geslaan het. Twee vuurwapens en 'n onbekende bedrag geld word vermis. 

Intussen het die DA in Noordwes die aanval op Schalk van der Merwe en sy vrou Lettie op hul plaas naby Wolmaransstad veroordeel en beskuldig hulle die ANC-regering wat nie landelike gemeenskappe se veiligheid prioritiseer nie. 'n Lid van die Provinsiale Wetgewer (LPW) en DA-woordvoerder vir Landbou en Landelike Ontwikkeling in Noordwes, Jacqueline Theologo, sê die regering moet dié opposisieparty in die Wes-Kaap se voorbeeld volg en R1 miljard vir 'n veiligheidsplan beskikbaar stel.

Daarmee saam is 'n vrou van Potgietersrus in Limpopo, Maandag, in minder as 24-uur ná die plaasaanval op 'n egpaar van Wolmaransstad in Noordwes, in haar huis gewond. Na wat verneem word het Magda Lombaard in die vroeë oggendure honde hoor blaf en ondersoek gaan instel, waarna sy glo 'n man deur die vensterruit gesien het. Lombaard is daarna deur die ruit geskiet. Sy is na 'n hospitaal in Johannesburg vervoer. Die Vryheidsfront Plus se Marcelle Maritz sê aanvalle soos dié op onskuldige mense in hul eie huise, is onaanvaarbaar, en dié party sal die situasie fyn dophou en seker maak geregtigheid geskied.

EN 

'n Bloedige warm paar dae word van Woensdag tot die naweek in 'n groot deel van die sentrale binneland verwag, met temperature van tussen 36 grade Celsius en 40 grade Celsius wat op plekke kan voorkom. Michael Nethavani, 'n voorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor, sê die kwik gaan na verwagting in die sentrale en westelike deel van die Vrystaat en Noordwes en die grootste gedeelte van die Noord-Kaap styg. In Upington in die Noord-Kaap kan temperature bo 40 grade Celsius voorkom, terwyl ander gebiede maksimum temperature bo 36 grade Celsius kan verwag. Nethavani sê daar is vandeesweek minder gunstige vooruitsigte op reën in die grootste deel van die sentrale binneland. Enkele buie kan in die sentrale oostelike deel voorkom. Hy sê die vooruitsigte op reën lyk meer positief teen volgende week.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.