On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Boere sien uit na goeie reënval

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:29 Wed, 04 Dec 2019

Landbounuus-podcast: Boere sien uit na goeie reënval  | News Article

Saaiboere in die Bultfontein-distrik in die Vrystaat wag angstig op goeie reën sodat hulle kan voortgaan met die voorbereiding van hul landerye en aanplantings.


Anton Botha, wat in die oostelike deel van dié distrik boer, sê hulle het nog nie voldoende reën gehad nie. Botha het Dinsdag 6mm reën op sy plaas gemeet. Hy sê hulle wag nou in spanning op goeie reën. Hy sê daar is talle boere in dié distrik wat die vorige seisoen geen somergewasse kon aanplant nie, weens min en selfs geen reën nie. Daar was boere wat wel koring aangeplant het, maar hulle het ook nie goeie koringopbrengste behaal nie, omdat hulle nie lentereëns gehad het nie. Botha sê boere is egter hoopvol dat die nuwe seisoen belowend gaan wees.

Lang verwagte reën het Dinsdag in die sentrale en oostelike deel van die Vrystaat en dele van Noordwes tydelike verligting gebring en daar is goeie vooruitsigte vir nog reën in die komende week en selfs volgende week. Kevin Ingram, 'n voorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor sê nog reën word volgende week vir die sentrale en oostelike deel van die Vrystaat en die grootse deel van Noordwes voorspel. Dit klaar egter teen volgende Donderdag op. Hy sê vooruitsigte op reën in die grootste deel van die Noord-Kaap, waar die droogte sy tol eis, is egter nie goed nie. Slegs die oostelike deel van dié  droogtegeteisterde provinsie kan  enkele buie verwag.
 
Die Departement van Water en Sanitasie poog om droogtebedryfsreëls in plek te stel as deel van sy poging om die bestaande waterhulpbronne doeltreffend te bewaar en te gebruik. Daar moet 'n sosiale komponent geskep word tussen die regering, die sakebedryf en arbeid in Suid-Afrika. Dit in 'n poging om te verseker dat alle gemeenskappe en die landboubedryf toegang tot water het. Dit is volgens Minister Lindiwe Sisulu wat die media vandeesweek toegespreek het nadat dié departement se meesterplan vir water en sanitasie vroeër bekendgestel is. Volgens Sisulu poog die regering ook om meer boorgate te sink en te rehabiliteer. Tenks vir waterafvoer van beskikbare bronne moet opgerig word, reënwater en beskikbare lugvog moet geberg word, en verdamping moet verhoed word.  

'n Konvooi van vragmotors en bakkies met sleepwaens met veevoer, asook motors met sleepwaens wat kospakkies en waterbottels vervoer, is onderweg na Cradock in die Oos-Kaap. Dié konvooi was in Bloemfontein byeen onderweg na Cradock om die skenkings aan sowat 50 boere in dié distrik uit te deel. Dit is deel van die noodlenigingsorganisasie, Boere Droogtehulp, se vele inisiatiewe om landbougemeenskappe by te staan wat gebuk gaan onder droogtetoestande. Die Oos-Kaap is reeds deur die provinsiale regering as 'n droogterampgebied verklaar en daar is slegs twee van die 46 plaaslike damme wat 100% vol is. Die konvooi voertuie was by die Shell Ultra City buite Bloemfontein op die Bultfontein-pad byeen.  

EN

OFM moedig luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry en skenkings kan doen. Skakels van organisasies, soos  Droogtehulp SA, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry. Vir die jongste nuus volg die hutsmerk #LandbouHoop.

OFM-nuus












@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.