Agriculture
Landbounuus-podcast: Voorsorgmaatreëls moet toegepas word op plase en kleinhoewes - #Coronavirus─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:11 Tue, 17 Mar 2020
Produktiwiteit in die landboubedryf moet beskerm word en daarom moet voorsorgmaatreëls en riglyne in terme van die verspreiding van die koronavirus op plase en kleinhoewes toegepas word.
Dit is volgens Agri SA se adjunk-uitvoerende direkteur, Christo van der Rheede, wat meen indien die landboubedryf lamgelê word weens onproduktiwiteit, dit ernstige gevolge vir voedselsekuriteit in die land inhou. Besoek Agri SA se webtuiste vir riglyne deur die Wêreldgesondheidsorganisasie wat gevolg kan word om 'n veilige en gesonde werksomgewing vir almal te verseker.
Die openbare verhore oor die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet, wat onteiening van eiendom moontlik maak teen nulvergoeding, is tydelik opgeskort weens die koronavirus. Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die ad-hoc komitee wat met dié grondwetwysiging gemoeid is, sê daar is besluit om die bedrywighede op te skort tot verdere kennisgewing, omdat dit in belang is van alle Suid-Afrikaners. Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa die koronavirus as 'n nasionale ramp verklaar het. Die samekoms van meer as 'n honderd mense word ook verbied in 'n poging om die verspreiding van dié siekte te verhoed. Die openbare verhore het reeds in die Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Gauteng plaasgevind.
Die raad en bestuur van die Bloemskou hou verwikkelinge rondom die koronavirus in Suid-Afrika fyn dop en is daartoe verbind om landbougemeenskappe voortdurend in te lig en op hoogte te hou. Dit kom nadat dié gewilde skou, wat jaarliks 'n hoogtepunt op die landboukalender is, ook afgestel is nadat die Covid-19 pandemie as 'n nasionale ramp verklaar is. Elmarie Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van dié skou, wat van 24 April tot 2 Mei sou plaasvind, sê hulle is vol vertroue dat die landbougemeenskap begrip sal hê vir die situasie. Daarmee saam is die Royal-skou in Pietermaritzburg, wat van 22 tot 31 Mei sou plaasvind, ook afgestel.
EN
Intussen sê Graan SA in 'n mediaverklaring hy neem kennis van navrae of die Nampo-oesdag, wat vanaf 12-15 Mei buite Bothaville plaasvind, ook afgelas of uitgestel gaan word. Graan SA sê hy sal nadat daar met alle betrokke partye vergader is, 'n verklaring uitreik. Volgens dié organisasie sal die impak van die maatreëls en besluite van pres. Cyril Ramaphosa bepaal of die Nampo-oesdag wel op die vasgestelde datum sal geskied.
OFM-nuus
